Die polisie in die Vrystaat beklemtoon opnuut die belang van padveiligheid nadat ‘n jong seun die naweek deur ‘n bus in Theunissen doodgery is. Polisiewoordvoerder, Mamello Mokhuoane, sê ‘n agtjarige seun het probeer om ‘n pad oor te steek en ‘n ligte motor te vermy wat in die aankomende baan gery het toe hy deur ‘n bus, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, getref is. Die seun is op die toneel dood. Die polisie ondersoek ‘n klag van strafbare manslag. Mokhuoane vra voetgangers om ekstra versigtig te wees wanneer hulle paaie oorsteek en moet doodseker maak daar is nie aankomende verkeer nie.
Mense moet voetgangeroorgange gebruik wanneer hulle ‘n pad wil oorsteek.
Voetgangers moet nasionale paaie soos die N1 en die N5, veral by Winburg, in dié streek veilig oorsteek.
Moenie selfone gebruik wanneer daar oor die pad gestap word nie.
Haal oorfone af.
Mokhuoane waarsku voetgangers om die aan te neem dat voertuigbestuurders hulle kan sien en sal stop om ‘n gevaarsituasie te voorkom nie. Waar moontlik, moet voetgangers veral saans helder klere dra om meer sigbaar te wees.







