Ontong en Vuli beïndruk tydens Music Marathon

0
494
Die 42.2km-drawwers begin die uitdagende roete tydens die 2019 Music Marathon FOTO'S: JOHAN ROUX

Die 2019-Music Marathon met OFM en aangebied deur die Bloemfontein Achilles-hardloopklub, het Saterdag in die Rosestad plaasgevind en oudergewoonte het die wedloop vir groot opwinding gesorg.

Die feit dat nagenoeg 1500 drawwers aan die 42.2km-marathon, 21.1km-halfmarathon, 10km-padwedloop en 5km-pretdraf deelgeneem het, het die Music Marathon amptelik die grootste in wedloop in die Vrystaat gemaak.

Die voormalige nasionale atleet, Chabeli Nyedimane, was die man om in te haal. Die 37-jarige Nyedimane, wat vroeër vanjaar tydens die Vaal Marathon koning gekraai het, was die algehele wenner in die mansmarathon met ‘n tyd van 2:35:03. Hy het die wedloop baie gemaklik gewen. Hy was meer as sewe minute vinniger as die naaswenner, die 26-jarige Anastacius Ontong.

Hoewel Ontong met silwer tevrede moes wees in ‘n spogtyd van 2:42:13, kan hy glad nie kla oor sy vertoning nie, aangesien dit sy heel eerste 42,2km-wedloop was, en om nog tweede oor die eindstreep te hardloop, is sonder twyfel ‘n skitterende prestasie. Mabine Lenyatsa het in ‘n tyd van 2:43:43 die wedloop voltooi.

Die “raasbek”, Rufus Botha, wat Saterdag agter die mikrofoon was en ook Ontong se afrigter is, was duidelik emosioneel toe sy atleet die tweede plek losgehardloop het. Botha het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy ‘n blink toekoms vir Ontong voorspel in die langer afstande.

“Omrede Anastacius nader aan 30 jaar begin beweeg, het ons besluit om hom stadig maar seker aan marathonwedlope bloot te stel. Dié man het baie goeie vaart op korter afstande en ‘n baie ekonomiese hardloopstyl. Dit, en geleidelike klem op sy uithouvermoë, voorspel ‘n mooi toekoms vir hom in die marathon.”

In die vrouemarathon het nog ‘n yster van Vrystaat-hardloop, Paulina Njeya, geseëvier met ‘n tyd van 3:21:53 deur Rozanne Marais met meer as 25 minute te klop. Marais het die marathon in ‘n tyd van 3:47:27 voltooi. Elzani Lotter het derde geëindig in ‘n tyd van 3:53:12.Die halfmarathon was a opwindende affêre vir die 22-jarige Sipho Ramohotsi wat die 21.1km roete in 1:09:12 voltooi het en goud verdien het as algehele wenner. Hy het Mxenecelwa Miya geklop in minder as ‘n minuut. Miya het silwer beklink in nog ‘n goeie tyd van 1:09:59. Die gesoute Godfrey Ramokane, wat al vele male oorsee deelgeneem het in onder meer Berlyn en Londen, het die sy plek op die podium met 1:12:03 verdien.

Annemie Nieuwoudt was eerste algeheel onder die dames in ‘n tyd van 1:37:55. Yolande van Heerden was kort op haar hakke in ‘n tyd van 1:38:20, terwyl Maryna Kamfer die derde plek in 1:39:53 beklee het.

Die mans-10km-padwedloop is deur die 23-jarige Avabonga Mavuso in ‘n tyd van 32:43 gewen. Modupe Mathe, wat drie jaar jonger is, het tweede oor die eindstreep gestoom in 33:14 maar dit was die ou man, Majake Hlabahlaba, wat die jonger latte gewys het hoe om dinge te doen met ‘n puik tyd van 33:20 vir die brons.

Na Ontong se vertoning in die marathon, was die 15-jarige Nonkulueko Vuli, se 43:43 die indrukwekkendste van die dag sy het as wenner van die damespadwedloop weggestap. Die 45-jarige Sandra Smith was tweede in 47:18, met Hilda Ramakuela in die derde plek met ‘n tyd van 47:51.

Die radiolegende en grapjas, Pieter Möller, sy vrou Carien, en die twee oud-Springbokke, Helgard Muller en Wian du Preez, wat vir droogtebewusmaking gehardloop het, het die padwedloop in 1:19:22 voltooi. – MORGAN PIEK