Knights maak hul stemme dik

0
509
Die 21-jarige aanvangskolwer, Raynard van Tonder, nadat hy 165 lopies teen die Dolphins op die Mangaung Oval in Bloemfontein gemoker het. FOTO: MORGAN PIEK

Die VKB Knights is goed op dreef na die eerste helfte van die plaaslike vierdag-kompetisie wat vroeër vanjaar begin het. Die eersterangse toernooispelers geniet nou na vier rondes ‘n blaaskans weens die 2019-Mzansi Superliga T20-toernooi wat oor die naweek begin het.

Die Knights beklee na vier rondes die tweede plek op die punteleer met 63.08 punte, slegs 3.04 punte agter die pasaangeërs, die Lions. Die Knights het wel slegs een wedstryd gewen, maar het amper die Dolphins sowel as Titans geklop, terwyl hulle goed geveg het om ‘n nederlaag teen die Lions te verhoed.

Dit is grootliks te danke aan uitstaande vertonings met die kolf, veral deur die aanvangskolwer, Raynard van Tonder, en die kaptein, Pite van Biljon.

Die Knights se boulers het ook beïndruk, veral die 19-jarige Gerald Coetzee met die nuwe bal, en die draaibalbouler, Shaun von Bergh.

Met 546 lopies is Van Tonder die voorste kolwer in die toernooi. Die 21-jarige voormalige SA o.19 kaptein spog met beurte van 204, 165, 81 en 52. In die proses het hy ook 64 viere en 1 ses gemoker.

Van Biljon is tans met 466 lopies die tweede beste kolwer in die reeks en het reeds beurte van 218, 95, 70 en 48 aangeteken. Hy spog tot dusver met 54 viere en 6 sesse.

Coetzee is tans die derde beste bouler in die reeks en het reeds 17 paaltjies platgetrek en sy beste boulsyfers vir ‘n beurt is 4/53. Von Berg is op sy beurt tans vyfde op die lys met sy 15 paaltjies en beste ontleding van 4/78.

Die Knights se sterk begin was uiters belangrik siende dat hulle volgende vier wedstryde in die reeks almal wegwedstryde sal wees. Die vierdagreeks hervat op 19 Desember met die Knights wat in die Paarl die Cape Cobras die stryd sal aansê. – MORGAN PIEK