Monzaan Designs, wat hierdie naweek sy deure open, is op ’n missie om skoolmeisies in Bloemfontein te help om op die dag van hul matriekafskeid mooi en selfversekerd te voel.
“Ek is geïnspireer deur die talle meisies wat droom van ’n matriekafskeid, maar nie die middele het om ’n duur rok te koop nie,” sê Susan van Niekerk. Sy het haar onderneming begin om dit vir meisies moontlik te maak om hul spesiale dag pragtig en vol selfvertroue in te gaan, ongeag hulle finansiële omstandighede. “Geen meisie behoort uitgesluit te voel nie.”
By Monzaan Designs kan rokke vir ’n billike koste gehuur of gekoop word. Bykomstighede en skoonheidsdienste, soos grimering, word ook verskaf. “Ek fokus veral op skoolmeisies en gesinne wat finansieel swaar trek, want matriekafskeid is ’n belangrike, eenmalige gebeurtenis,” sê Susan. Sy glo selfvertroue en selfversorging is kernaspekte van bemagtiging. “Wanneer ’n meisie mooi voel, groei haar selfvertroue. Dit help haar om haar eiewaarde raak te sien,” voeg sy by.
Die missie van Monzaan Designs is eenvoudig: “Elke meisie moet die kans hê om mooi, selfversekerd en spesiaal te voel – ongeag haar omstandighede.” Deur samewerking met skole en gemeenskapsorganisasies, beplan Susan om nog meer meisies te bereik en te ondersteun. Susan sal bygestaan word deur ’n gr. 11-leerder, Lihane Opperman, wat die geleentheid kry om ten volle betaalde opleiding te ontvang om ’n loopbaan in grimering en naels te begin.
Monzaan Designs is nie net ’n modeonderneming nie, maar ’n plek waar meisies hoop, liefde en ’n glimlag kry op die reis na hul matriekafskeid. Susan nooi die publiek uit om die onderneming in Fichardtpark te besoek.
Vir meer inligting of om ’n afspraak te maak, nader Monzaan Designs by 064 642 6391.







