MARICELLE BOTHA
Bloemfontein se nuutse kontemporêre galery het die afgelope naweek sy deure geopen met ’n tentoonstelling van die bekende beeldhouer Anton Smit. Gallery on Leviseur in Leviseurstraat, Westdene, is die ‘geesteskind’ van Fransica de Gouveia.
De Gouveia vertel dat die ligging van die galery nie toevallig is nie. "Dit was vir ons belangrik dat die galery so geleë is dat dit redelik sentraal en toeganklik is. "Sy glo dat ’n galery nie ’n intimiderende ruimte moet wees nie. Gallery on Leviseur sal hoofsaaklik solotentoonstellings aanbied wat sowat ses tot agt
weke op ’n slag sal duur.
Volgens De Gouveia is die galery ’n ruimte waarin hoogstaande individue hul kreatiwiteit ten toon kan stel met die hulp van diegene wat veg om die wêreld van ontwerp te behou. "Gallery on Leviseur is daarop gemik om die kreatiewe dialoog
te bevorder. Nog ’n doelwit is om kuns aan versamelaars te bied wat òf uniek is, òf in baie beperkte uitgawes geproduseer is, sonder oordeel van waarde of smaak."
Die verskeidenheid beeldhouwerk wat tans in die galery te sien is, wissel van klein, intieme beelde tot enorme skeppings wat selfs buite die galery tentoongestel word. Smit is ’n selfgeleerde kunstenaar wat in 1979 die gesogte New Signatures-kompetisie van die SA Kunsvereniging ontvang het.
Ná suksesvolle uitstallings in Nelspruit, Witrivier, Kaapstad en Pretoria, het Smit as voltydse beeldhouer begin werk toe sy werk al hoe meer gewild begin raak het in galerye en onder private versamelaars. Sy werk is onder meer in permanente versamelings in kunsmuseums in Pretoria en Pietersburg opgeneem, asook verskeie ander galerye regoor die land. In 1990 het Smit internasionale erkenning verwerf met uitstallings in Rome en Milaan, asook uitstallings in New York en Hongkong. Meer uitstallings het later gevolg in Bonn, Washington, Singapoer, Köln en Amsterdam.