Die bekende grapjas, oud-omroeper van OFM en steeds landbouverslaggewer vir OFM, Pieter Möller, is Saterdag by een van die gewildste padwedlope in die Vrystaat, die Glen-halfmarathon (21,1 km) luid toegejuig toe hy dié wedloop voltooi het. En, dit was nié omdat hy die wedloop gewen het nie (daarvoor sal nog baie water in die see moet loop).
Möller, wat bekend is daarvoor dat hy gereeld aan padwedlope (Comrades-ultramarathon inkluis) deelneem en nóg meer bekend is daarvoor dat hy die toegelate tydsbeperking vir wedlope gewoonlik met deeglike beplanning net-net bemeester, het Saterdag sy 14de Glen-wedloop aangepak.
Hy het die wedloop saam met sy dogter, Annika, ‘n tweedejaarstudent in dieetkunde, gehardloop. Dit was Annika se eerste halfmarathon en sy en pa Pieter het gerieflik vinniger gedraf as die toelaatbare tyd (drie ure) toe hulle op 2:55:14 oor die eindstreep is.
Die aankondiger by die byeenkoms was bewus daarvan dat Möller Saterdag sy 57ste verjaardag gevier het en eersgenoemde het die toeskouers en honderde atlete wat reeds die wedloop voltooi het aangemoedig om Möller oor die laaste 100m met die sing van “Happy Birthday” te begroet. So gesê, so gedaan.
Moller was uit die veld geslaan en toe hy na die gesingery oor die eindstreep draf en almal hom luid toegejuig het. “Ek kan dit nie glo nie. Dit was só spesiaal, en die feit dat ek dit saam met Annika in haar eerste halfmarathon kon beleef het, het dit ekstra spesiaal gemaak,” het Möller na die tyd gesê.
Die wedloop in die mansafdeling is sonder veel moeite deur Chabeli Nyedimane (Nedbank Bloemfontein Achilles) in ‘n beskeie tyd van 1:08:45 gewen. Hy is gevolg deur Emmanuel Mkhabela (Sibanya, 1:09:28) en David Molhiselwa (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:11:25).
Maryna Swanepoel (Eskom Gijimas) het die vrouewedloop gewen in ‘n stadige tyd van 1:27:06. Sy het egter ‘n wegholoorwinning behaal en die tweede en derde atlete, Yolanda van Heerden (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:37:34) en Lourika Snyman (Kovsies, 1:40:22) geklop.
Die ander wenners is:
Mans: 40 tot 49 jaar: Roelf Nkhi (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:13:36), 50 tot 59 jaar: Abraham Ndhlebe (Motheo AC, 1:19:02), 60 jaar plus: Joggie Prinsloo (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:38:21), juniors: Xolisa Madi (Individueel, 1:16:48), stap: Philip Vogel (Pentagon Pistols, 2:33:57).
Vroue: 40 tot 49 jaar: Leana Esterhuizen (Bloemfontein Striders, 1:48:40), 50 tot 59 jaar: Charmaine van der Walt (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:51:12), juniors: Rethabile Jabane (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:51:28), stap: Miemie Kleingeld (Nedbank Bloemfontein Achilles, 2:27:50).







