Ellispark blyk ‘teelaarde’ te wees vir Crinums

0
640
RUFUS BOTHA

Een van die staatmakers van die verdedigende nasionale netbalkampioenspan, die Vrystaat Crinums, Rieze Straeuli se pa Rudolph, het diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap. Hy het veral op Ellispark, tuisveld van die Goue Leeus, harde bene gekou. Straeuli het tussen 1993 en 1996 vir die Goue Leeus op agsteman en flank gesak. Hy het 61 keer vir die Rooibontes gespeel en 14 keer as kaptein. Hy het gedurende dié tydperk sy debuut vir die Springbokke gemaak en was lid van die Bokspan wat op die einste Ellispark die wêreldbeker in 1995 omhoog gehou het.

Rieze (hulpdoel en doel), is vir seker nie ‘n onbekende gesig by Kovsies en Vrystaat Crinums-netbal nie. Daarvoor het haar puik spel gesorg. Sy het reeds van graad 6 vir KwaZulu-Natal provinsiale netbal gespeel.

‘n Nuwe gesig by die Crinums, die op-en-wakker Dènielle van der Merwe (doel), se pa Jacobus, het self harde rugby op Ellispark gespeel. Hy het vir die Vaaldriehoek se onder 21-span as losskakel en senter op die veld gedraf. Hy het boonop vir, wat bekend gestaan het as die destydse Transvaal (nou Goue Leeus) se tweedespan, die Rooibokke óók op Ellispark geswoeg.

Courant het met Jacobus gesels oor die groot naam wat die Van der Merwes in Suid-Afrikaanse korfbalkringe gemaak het. Jacobus het vir 23 jaar (1988 tot 2011) provinsiale korfbal gespeel en onder meer telkemaal die destydse Suid-Transvaal verteenwoordig. Sy vrou, Valerie, het vir die Suid-Afrikaanse onder 21-span gespeel.

Terug by die dogter en Vrystaat Crinums-netbalspeler, Dènielle. Dié meisiekind se balvaardighede skrik vir niks. Sy het in die einste korfbalsport die Suid-Afrikaanse onder 21-span teen Australië verteenwoordig. Sy was slegs onder 14 toe sy hierdie onderskeiding behaal het.

Terloops, Jacobus vertel: “Die naam korfbal bestaan nie meer nie. Die sport heet deesdae ringbal."