Bloemfonteiners wat die Vrystaat by die Suid-Afrikaanse junior skermkampioenskap wat op die Kovsiekampus in die Rosestad beslis is verteenwoordig het, het met puik prestasies vorendag gekom. Die Vrystaat is weer onderskei as een van die voorste skermprovinsies in die junior afdeling.
Ses van die Vrystaat se opkomende sterre het op die podium verskyn en agt medaljes, waarvan vier goud, in ontvangs geneem.
Ruan Coetzee (Sentraal) het gewys dat hy oor die potensiaal beskik om in die toekoms op wêreldvlak amok te maak. Hy het in die seuns onder 17-afdeling in die sabel-dissipline goud om die nek gehang en sy heerskappy in die sabel-afdeling onderstreep toe hy dié afdeling in die junior ouderdomsgroep (onder 20) ook sy eie gemaak het.
Coetzee moes in die onder 17-afdeling ses gevegte wen voor hy in die eindronde die Kapenaar Dandré de Jongh geklop het.
In die junior afdeling moes Coetzee eers ‘n paar ouer manne klop en ná sewe oorwinnings het hy in die eindronde vir Andrew Howard in die tweedeplek ingeskerm.
Skerm vier hoogty in Coetzee se familie. Ruan Coetzee se sussies Ella Coetzee en Kiara Schröder (albei Laerskool Universitas), wat onderskeidelik tien en agt jaar oud is, het ná puik skermtegniek uiteindelik teen mekaar om die goue medalje te staan gekom in die onder 11 epeé-afdeling. Ella het uiteindelik die eindronde gewen.
Nog ‘n lid van dié begaafde skerm-familie, Anzel Schröder (Laerskool Universitas), het twee silwermedaljes haar eie gemaak toe sy tweede was in die foil- sowel die epeé-dissipline vir meisies onder 13.
‘n Leerling aan die Hoërskool Sentraal, Moné de Jager, het haar goed van haar taak gekwyt deur goud in te palm in die epeé vir meisies onder 15 terwyl Liam van Zuydam (Eduplus) brons in die sak gesteek het in die epeé vir seuns onder 13.







