Mark Steenbok
Skoliere van die Driewieldraai, oftewel die Pre-priemêre skool van Martie du Plessis is vanoggend deeglik verras met ‘n Anna Emm geskenkpakkie.
Die skoliere is die tweede skool in die Vrystaat wat identifiseer is om hierdie unieke geskenpakkie te ontvang. Die eerste skool wat die geskenkpakkies ontvang het was Kontiki Kleuterskool. Die geskenkpakkie bestaan uit boeke en CD’s wat nie net genot bied, maar ook baie opvoedkundig is.
Diane le Grange, wat optree as ambassadeur vir Anne Emm hier in die Vrystaat, het die geskenpakkies persoonlik aan die Martie du Plessis kleuters oorhandig.
Le Grange het aan Courant verduidelik dat die stories verskeie voordele inhou vir die kinders.
“Ons stories fokus daarop om kinders se verbeelding te stimuleer, hulle woordeskat en luistervaardighede te verbeter, en hulle selfvertroue te bou,” sê Le Grange.
Johnel Cronje, die departementshoof van die Driewieldraai het beklemtoon dat die Anna Emm stories ‘n voordeel vir die kleuters inhou.
“Ons is baie bly oor die geskenkpakkie. Ons kinders sukkel in tale en die Anna Emm geskenkpakkie sal veral die taalvaardighede van die kinders opskerp,” sê Le Grange.
Anna Emm is bekend as een van die grootste skrywers van kinderstories in die land. Sy het al meer as 2000 kinderstories geskryf en vervaardig, meestal in Afrikaans.
Die stories word gereeld deur grootname soos Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, Chris Chameleon en Anrich Herbst op CD’s opgeneem.
Die geskenpakkie is al landswyd oorhandig aan skole, insluitend verskeie skole in die Kaap en Johannesburg, en Le Grange noem dat die projek redelik nuut is in die Vrystaat.








