E Copy

Date:

Maak ‘n verskil in Jemen, vra Korkie-gesin

Wyle Pierre Korkie se weduwee, Yolandé, wat in Bloemfontein saam met hul twee tienerkinders bly, is in Desember 2009 na Jemen omdat hulle as gesin 'n keuse gemaak het om 'n diens aan inwoners van die land wat in nood verkeer weens die plaaslike geweldsituasie, te lewer. Volgens Yolandé het die gesin in die vier jaar in Jemen, waar Pierre 'n onderwyser in Engels by die Rahaf Foundation for Development was, mense se nood saam met hulle ervaar. "Ek het gesien hoe pa's hulpeloos voor hul kinders gestaan het en nie eens die basiese (soos kos) vir hul kinders kon voorsien nie." Yolandé het verlede week die Korkie-familie se ondersteuning gegee vir die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers (GOTG) wat sedert 2012 noodvoorraad aan mense in Jemen verskaf. GOTG het verlede week weer begin om die eerste besending kos, klere en mediese voorraad van Suid-Afrika na Jemen te vervoer. Die organisasie se hoof, Imtiaz Sooliman, sê voorraad kon vir die afgelope ses maande nie na die land geneem word of van GOTG se pakhuise in twee hawestede in Jemen versprei word nie omdat lughawens en hawens weens gewelddadige botsings tussen rebelle en vegters wat lojaal is aan president Abedrabbo Mansoer Hadi, gesluit is. 
Yolandé ondersteun GOTG se hulpverleningspoging al is sy en Pierre op 27 Mei 2013 in die stad Taiz in Jemen deur 'n gewelddadige bende ontvoer en later deur lede van die terreurgroep, Al Kaïda, gyselaar geneem. Yolandé is meer as sewe maande later ná suksesvolle bevrydingsonderhandeling met Al Kaïda deur GOTG se verteenwoordiger in Jemen, Anas Al-Hamati, sonder 'n losprys vrygelaat. Pierre is in Desember dieselfde jaar in 'n mislukte reddingspoging deur die Amerikaanse spesiale magte, doodgeskiet. Hy was op die punt om vrygelaat te word ná plaaslike stamhoofde en Al-Hamati 'n ooreenkoms met Al-Kaïda bereik het. 
Volgens Yolandé het die gesin slegte herinneringe aan Jemen, maar hulle onthou ook die goeie. "Ons het die slegte gebeure agter ons gesit en fokus op die goeie."
Die Korkie-gesin het steeds goeie vriende in Jemen, waarvan die meeste nou beskou word as "mense wat in hul omgewing misplaas is". Yolandé vra Suid-Afrikaners om hul harte oop te maak vir die meer as 80% inwoners van die oorloggeteisterde land wat weens die geweldsituasie onder geweldige armoede gebuk gaan. Sowat 45 miljoen burgers het 'n groot behoefte aan humanitêre hulp, sê Yolandé. Sy meen die droogtesituasie in die land vererger die noodsituasie. "Die Korkie-familie en Al Hamati doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners en die wêreld om te help en 'n bydrae aan GOTG te maak." Sy meen dit is nou 'n gulde geleentheid om 'n nasie wat in nood verkeer te ondersteun. "Die krag van liefde en om vergewensgesind te wees is sterker as oorlog."
Volgens Sooliman is die Aden-hawe meer as drie weke gelede heropen en daarom wil GOTG sy twee pakhuise in Jemen met meer as 20 vraghouers wat noodsaaklike voorraad bevat, aanvul. GOTG verskaf al sedert 2012 vooraad aan behoeftiges in Jemen.
Al-Hamati, wat verlede maand met Yolandé in Bloemfontein herenig het nadat sy vrygelaat is, is ook nou betrokke by die voorraadbesending van GOTG se pakhuise in Pietermartizburg en Johannesburg na Jemen. Dit is Al-Hamati en sy gesin se eerste besoek aan Suid-Afrika. Hy het met sy besoek aan Bloemfontein Courant vertel dat Jemen voorheen bekend was as 'n "gelukkige Jemen", maar met die burgeroorlog wat in die land heers, kry mense swaar. Hy glo egter vas die wêreld sal binnekort 'n nuwe Jemen sien, sonder terroriste en ontvoerders. Hy het vertel dat mense honger is en gesondheidsdienste nie beskikbaar is nie, terwyl skole en universiteite ook nie funksioneer nie. Kos wat wel bekombaar is, is peperduur. Mense steun op internasionale skenkings. Hy glo GOTG het nou meer as ooit 'n noodsaaklike rol om in Jemen te speel.
Om 'n bydrae te maak aan GOTG bel 080-078-6777. – Christal-lize Muller
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...