UV-navorsingspan kry internasionale blootstelling

0
834

Dr. Francois Deacon en prof. Fred Bercovitch besig met veldwerk.

"Dit is vir ons 'n ongelooflike voorreg dat hy die behoefte gehad het om te kom kyk wat ons hier doen."
Dit is die woorde van navorser en dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, dr. Francois Deacon. Hy en sy span het danksy baanbrekersnavorsing internasionale aandag op kameelperde gevestig.
Deacon en sy kundige span het die eerste navorsers ter wêreld geword om kameelperde met GPS-halsbande toe te rus.
Die GPS-halsbande stel navorsers in staat om dié diere dag en nag te volg terwyl hulle bewegings op 'n afstand op 'n rekenaar gemonitor word. Die span kan selfs met die diere kommunikeer, sien waar hulle hulself bevind en opsporingskedules verander.
Die werk van die navorsingspan het die aandag van 'n welbekende natuurlewe wetenskaplike van die Kyoto Universiteit in Japan getrek. Prof. Fred Bercovitch is al 35 jaar betrokke by navorsingsprojekte op kameelperde en het 'n week saam met Deacon en sy span deurgebring.
"Ons het saamgewerk deur verskeie datastelsels te analiseer. Ek kon vir hom wys watter tegnieke en metodes ons hier gebruik. Ons het onder meer drie artikels met inligting, wat nog nooit gepubliseer is nie, deurgewerk. Wat verskriklik lekker is van die GPS-halsbande, is dat dit die manier waarop ons dink oor kameelperde verander het," sê Deacon.
Hy en sy span van die departement vee, wild en weidingkunde, het reeds ses jaar gelede intensief navorsing oor kameelperde begin doen, met die hoop dat die inligting tot meer insig oor die bestaan van hierdie besonderse diere sou lei.
Volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN) was daar in 1998 na raming meer as 140 000 kameelperde in Afrika. Vandag is daar minder as 80 000 kameelperde op die kontinent oor.
"Tegnologie raak al hoe beter en ons moet dit net meer gebruik. Niemand kom agter kameelperde bevind hulle in 'n geweldige krisis nie. Daar is soveel aandag op ander wildspesies gevestig, maar daar is egter onder kameelperde net so 'n groot probleem. Ons will alles moontlik doen om kameelperde op die kontinent te behou," sê Deacon. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za