Landbou se veiligheidstrukture in plek in die Vrystaat

0
609
Twee agter tralies ná aanval op bejaarde Bloemfonteiner
Georganiseerde landbou se veiligheidstrukture is in plek in die Vrystaat. Boere is paraat en werk nou saam met die polisie om misdaad in plattelandse gebiede te bekamp.

Dit kom nadat boere in die distrik Bothaville Vrydagaand vinnig gereageer het ná ‘n gewapende rooftog op ‘n plaas sowat 15km buite die dorp in die rigting van Hoopstad. ‘n Verdagte is dieselfde aand weens die aanval op drie vroue en twee kinders in hegtenis geneem.

Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskoördineerder in die distrik, Cornay Botma, sê plaaslike boere, wat lede van die veiligheidsstruktuur is, het ‘n verdagte wit Bantam-bakkie opgemerk wat teen ‘n hoë spoed gery het. Hulle het die bakkie agternagesit tot by ‘n township by Orkney in Noordwes. Die veiligheidstruktuur se noodplan is in werking gestel. Die polisie het kort daarna ‘n 30-jarige man aangekeer.

Botma sê die verdagte was in besit van die beweerde gesteelde goedere wat in die rooftog gebuit is. Hy sê dit is belangrik dat boere deurgaans op hul hoede moet wees.

Boere is toenemend meer paraat. Hulle is toegewyd om misdaad te stop. Boere staan saam en gee om wat in hul gebied gebeur, sê hy. Botma verwys na VL se veiligheidstrukture as ‘n “goed geoliede masjien”. Hy stuur ‘n streng waarskuwing uit aan voornemende booswigte dat hulle moet ligloop, want boere is paraat.

Botma sê ‘n vrou, wat die plaaseienaar is, haar suster, ‘n weduwee, en dié se dogter en haar twee jong kinders is Vrydag omstreeks 19:00 in die plaashuis vasgebind nadat vier gewapende rowers met ‘n wit Bantam-bakkie op die plaas aangekom het. Die plaaseienaar is by haar huis se deur oorval toe sy wou vasstel wie op die plaas aangekom het. Sy is in die huis ingedwing.

Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê die gewapende rowers het geld geëis. Hulle het daarna met ‘n vuurwapen en ‘n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan.

Die vermeende rower sal na verwagting vandag in die landdroshof op Bothaville op ‘n aanklag van gewapende roof verskyn. Polisieboeie en ‘n polisie-glimbaadjie is in die man se besit gevind, sê Thakeng. Die polisie soek steeds na drie mans wat betrokke was by die rooftog.

OFM-nuus verneem een van die rowers het ten tyde van die voorval ‘n polisieuniform met ‘n reflekteerbaadjie aangehad. Botma sê die vroue en die twee kinders het nie ernstige beserings opgedoen nie. Hulle is egter steeds erg getraumatiseerd. Die slagoffers se name word om veiligheidsredes nie bekendgemaak nie. – Christal-Lize Muller