Kruger weer aangewys as Shimlas-kaptein

0
570
Die skrumskakel, Rewan Kruger, was onlangs in aksie gewees vir die Toyota Cheetahs in die Toyota-uidaagreeks in Bloemfontein. FOTO: MORGAN PIEK

Die voormalige Junior Springbok-skrumskakel, Rewan Kruger, sal aanstaande jaar weer die Shimlas aanvoer in die Varsitybeker-reeks.

Kruger was vanjaar ook die kaptein van die span in koningsbloutruie tydens die Varsitybeker wat in Pretoria in bioborrel beslis is.

Hy was onlangs in aksie vir die Toyota Cheetahs teen die Sharks en die span van Roemenië, Baia Mare, in die Toyota-uitdaagreeks in Bloemfontein.

Hoewel hy nie in al die wedstryde die span op die veld gelei het nie, is dit maar min dat ‘n speler vir meer as een seisoen ‘n Varsitybeker aanvoer.

Kruger word vanjaar bygestaan deur die agtsteman, Ruwald van der Merwe, asook die slot, Thabang Mahlasi.

Dié twee spelers sal ook weer deel vorm van die leiersgroep wat saamgestel is uit vyf spelers. Die ander twee spelers in die leiersgroep is die senter, JP Duvenhage, en die haker, Wihan Marais.

Volgens die nuwe Shimlas-breier, André Tredoux, is al dié spelers natuurlike leiers wat deur die ander spelers gekies is en Kruger se ondervinding by die Cheetahs sal waardevol wees.

“Hulle is deur die spelers asook die afrigters gekies en is beslis die mees geskikte spelers vir dié rol.

“Rewan het ‘n skerp rugbybrein en hy verstaan die spel goed. Sy ondervinding by die Cheetahs sal ook die Shimlas help wanneer hy vir ons speel.”

Die Shimlas se 2022-Varsitybeker-veldtog sal op 14 Februarie afskop wanneer hulle in Bellville die Universiteit van Wes-Kaapland die stryd aansê. – MORGAN PIEK