Aflos-kampioenskap in Bloemfontein uitgestel

0
563

Die beplande afloskampioenskap in Bloemfontein wat eerskomende Vrydagaand sou plaasvind, is nou vir eers op ys.

Die atletiekbyeenkoms, wat die eerste van sy soort in Suid-Afrika sou wees, sal nou om verskeie redes eers vroeg volgende jaar plaasvind.

Suid-Afrika het ‘n taai week beleef met die aankondiging dat die land weer op die rooilys van vele lande regoor die wêreld is weens die Omikron-variant van Covid-19. Dit het daartoe gelei dat vele sporttoernooie, veral op internasionale vlak, afgelas is. Dit sluit in die 2021-Junior Hokkie-wêreldbeker vir vroue in Potchefstroom asook die Internasionale eendagkrieketreeks tussen Suid-Afrika en Nederland.

Die aflos-byeenkoms is egter om ‘n ander rede uitgestel. Aangesien die byeenkoms skoolatlete insluit en skole en universiteite reeds vroeër dié week begin sluit het, is daar besluit om alles vir eers op ys plaas. Die nuwe datum vir die byeenkoms is Saterdag, 22 Januarie 2022.

Atlete sal dan terug wees by skole en universiteite en die skole-atliekprogram sal ook teen daardie tyd afgehandel wees.

Die o.20-wêreldrekordhouer en kampioen van Bloemfontein, Lucky Moleyane, is een van die groot trekpleisters vir die byeenkoms. – MORGAN PIEK