Sewentig jaar van genade

0
592
Tentmakerpredikant, Athean Page en ds. Gavern Cloete

Die nederige begin van ‘n gemeente wat oor die jare gegroei het om vandag ‘n hele gemeenskap met liefde en deernis te dien, word hierdie naweek gevier wanneer die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Heatherdale sy 70ste verjaardag vier.

Dié gemeente is op 15 Oktober 1951 in Ashbury, Heidedal, gevestig as die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk. Hulle het so bekend gestaan tot in 1994, toe die naam verander het na die Verenigende Gereformeerde Kerk. Só vertel ds. Gavern Cloete, en tentmakerpredikant, Athean Page, wat saam die gemeente bedien.

“Hierdie mylpaal beteken vir ons baie. Om as gemeente ons bestaan binne die gemeenskap van Heidedal te vier, is ‘n voorreg. Dit is in lyn met ons missie- en visiestellings. Ons visie is om hoop te bring aan diegene sonder hoop, konstruktief by te dra tot die genesing van diegene wat seer het, verlies terug te bring in die Koninkryk van God, sodat ons by wyse van die prediking van die Evangelie van ons Here Jesus Christus en ons gemeente se betrokkenheid ons missie kan uitleef. Dit is om ons Godgegewe mandaat na die beste van ons vermoë te vervul. Ons as gemeente word geroep om terug te gee aan die gemeenskap, op watter manier ook al,” het ds. Cloete gesê.

Van die vieringe wat reeds plaasgevind het, was ’n fliekaand vir die jeug, en nou word hard voorberei vir die “gemeente se ‘Birthday Celebration Bash’ eerskomende Saterdag, 4 Desember”. Ds. Cloete het die gemeenskap van Bloemfontein genooi om ‘n dag vol aktiwiteite te kom geniet. “Daar sal heerlike kos teen billike pryse wees en lekker pryse om te wen. Alles wat jy by ‘n tradisionele basaar kry, sal beskikbaar wees.”

Hy het bygevoeg dat dit inderdaad 70 jaar van genade is waarvoor hulle uiters dankbaar is. “Genade is vir ons meer as genoeg. Genade, omdat ons besef dat God in Sy barmhartigheid en genade voor ons neerbuig en ons optel en ons lewens verander deur ons gemeenskap te seën deur mense wat Hy op ons pad plaas.”

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za