Franz Marx-aanhangers in Bloemfontein het reeds begin om hul lippe af te lek vir ‘n spannende gesprek met hul skrywersheld.
Marx besoek die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) op Dinsdag 5 Desember om oor sy spanningsroman, Spieëlbeeld, te gesels. Francois Smith sal die gesprek lei.
Marx is ’n bekroonde akteur, draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger met verskeie rolprente, televisiereekse, enkeldramas en minireekse agter sy naam. Hy is ook die skrywer en vervaardiger van Suid-Afrika se eerste sepie, Egoli: Plek van Goud.
Spieëlbeeld handel oor Dolf Eksteen, een van die rykste sakemanne in die land. Die ander hoofkarakter in die boek, Joe Minnie, se lewe raak verweef met dié van Eksteen. Sy opdrag is om Eksteen met sy lewe te bewaak.
Eksteen se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.
Vir ‘n dieper kykie in hierdie spannende verhaal, kom luister op 5 Desember om 18:00 vir 18:30 by Naln.
Vir meer inligting, bel 051-406-7560 of stuur ‘n epos na [email protected].
Jeretha Oosthuizen







