Goeiedag
“Manne, ek maak reg vir ’n grote. Die Bokke het ongetwyfeld ’n kans om die gedugte All Blacks Saterdag om 09:30 op Edenpark in Auckland te troef. Die klinkende sege van 38-12 oor die Wallabies is bewys daarvan,” begin Botterbul Bester ons weeklikse indaba.
“Ja, en dis die Bokke se eerste oorwinning nog in die Suncorpstadion in Brisbane. Die vier drieë wat hulle gedruk het plaas ons span in die eerste plek op die Castle Lager-rugbykampioenskap se puntelys. ’n Punt voor die All Blacks. Ek dink ook ons kan die Kiwi’s in hul eie agterplaas gaan troef,” bou Sporie Bezuidenhout daarop voort.
“Dit was ’n kragtige spanpoging, maar julle moet die rol wat die Bokke se spelskepper, Woelige Willie le Roux, gespeel het nie miskyk nie. Hy het ’n aandeel in minstens twee drieë gehad. Heyneke Meyer kan sy sterre dank dat hy hom wel as regtervleuel ingesluit het, want as Björn Basson nie beseer was nie, kon hy dalk ten koste van Basson en Zane Kirchner uit die span gelaat gewees het,” laat oom Sjert ook van hoor.
Uit die Kaap gooi Bontie Bonthuys egter so bietjie koue water op die geesdrif. “Kêrels, daar was steeds ’n insinking net na rustyd in die Bokke se spel. Ruan Pienaar het stukke beter gespeel op skrumskakel. Hy het uitstekend geskop, maar kan nog vinniger skoonmaak. Kirchner het op heelagter goed gevaar, maar as aanvaller is hy nie van dieselfde gehalte as Woelige Willie nie.”
“Ek is baie tevrede. Op eg Suid-Afrikaanse wyse is die Wallabies voor behoorlik saggemaak deur ons skrumwerk en uitstekende spel deur die agttal. Die verdediging, veral in die middelveld, was uitstekend en ons het ook kanse geskep vir aanvalle.
“Die manewales van Heyneke Meyer langs die veld steek my egter dwars in die krop. Dit hoort net nie by ’n Bokafrigter nie,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.
Oom Sjert sluit die samehorigheid af deur te sê: “Meyer moet homself beteuel, maar hy moet ook lof kry. Hy is besig om goeie balans in die span te kry en daarby het die plaasvervangers almal ook impak gemaak. Veral Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en Juandré Kruger. Hy bou aan ’n sterk groep vir die volgende Wêreldbeker.”
Groetnis
Date:







