Maricelle Botha
Lefra Produksies het oor die jare met groot sukses bewys dat hy sy gehoor ken en ‘n klassieke klug op die verhoog kan bring wat gehore dawerend laat lag. Met sy resep van fyn humor, ‘n goeie teks en gesoute akteurs, word Bloemfonteinse gehore vandeesweek trakteer op belaglike situasies en skaterende oomblikke in die produksie My Boetie se Sussie se Ou.
Dié stuk is Pierre van Pletzen se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney se Caught in the Net, met regie deur klugkoning Frans Swart. Dit is tans in die Sand du Plessis-teater op die planke en kan tot Sondag hier gesien word.
Bloemfontein Courant het die geleentheid gehad om met twee van die bekende gesigte in die produksie te gesels.
Hennie Smit, wat te sien is in die rol van Stanley se seniele pa, Dêda, en David Rees in die rol van John Smith, die Londense taxibestuurder, ontmoet hier op die verhoog nadat hulle jare gelede saam op die stel van die eertydse sepie, Egoli, gespeel het.
"Dit is wonderlik om weer saam met Hennie te werk," sê Rees. Hy voeg by dat elke groep mense se dinamika verskil en hulle baie bevoorreg is om met so ‘n wonderlike geselskap akteurs te werk.
Hoewel baie van ons Smit as ‘n gesoute akteur beskou in talle mediums, is hy baie beskeie oor sy rol tussen jonger akteurs. "Die druk wat ek beleef het is dat ek drie dae nadat ek ‘n elmboogvervanging gehad het, ‘n oudisie vir "My Boetie" in Johannesburg moes doen en vyf dae later met ‘n elmboog, wat met staal vervang is, en in ‘n "sling", begin repeteer het. Pynpille en woorde leer gaan ook nie eintlik saam nie, maar die jong akteurs was wonderlik geduldig en ondersteunend."
Smit wat vir ‘n jaar en ‘n half in Bloemfontein gewoon het totdat hy begin reperteer het aan My Boetie se Sussie se Ou sê ‘n stukkie van sy hart het in Bloemfontein agtergebly.
Op die vraag of daar meer druk op hom is omdat Bloemfonteiners hom nou as een van hulle geïen het, sê hy: "Die "een van ons" is vir my persoonlik baie vleiend. Ek hoop net my Bloemfonteinse vriende kom lag saam. Want lag, gaan jy lag!!!"
Hoewel Smit al ‘n paar draaie op die Sand se verhoog gemaak het, is dit ‘n eerste vir David en hy meen dit is vir hom "’n loopbaan-hoogtepunt" om by die Sand du Plessis te kan werk. "Ek is baie opgewonde oor die voorreg om in die Sand du Plessis te kan optree."
Hoewel komedie ‘n groot deel uitmaak van ‘n klug is dinge nie altyd net grappies op die verhoog nie. Volgens David is grappies ‘n ernsitige besigheid.
"Almal is baie professioneel en ons verwag net die beste van onsself. ‘Good is the enemy of great’ en dit is ‘n voorreg om met verhoogakteurs Cindy Swanepoel en Botha Enslin te werk. Hulle duld nie tweede beste nie en is my tipe mense. Maar daar is beslis tyd vir pret, en glo my, ons het baie!"
En wat dink Smit behoort David van Bloem te weet?
"David behoort te weet dat Bloemfontein die mooiste rose en meisies het. ‘n Vriendelike stad, wat ryk is aan geskiedenis, veral die oor die Boere-oorlog.
My Boetie se Sussie se Ou se speelvlak is tot 13 Julie, met vertonings om 20:00 tot Saterdag, en middagvertonings op Saterdag en Sondag om 15:00. Kaartjies kos tussen R130 en R170. Besprekings vir al die vertonings kan by Pacofs gedoen word deur 051-447-7772 te skakel.
maricelle@centralmediagroup.co.za