‘n Jong seuntjie het ‘n maand na sy tweede verjaarsdag ‘n unieke hartoperasie by die Life Rosepark Hospitaal in Bloemfontein ondergaan.
Dié seuntjie, Lehakwe Khateane van Trompsburg, is gebore met ‘n komplekse hart defek waar die aortaklep en aortaboog vernou is.
Die kritieke vernouing van die aorta was so erg dat dit kort na Lehakwe se geboorte herstel moes word.
Met verloop van tyd het die aorta klep, wat net twee suile het, in plaas van die normale drie, ook begin vernou.
Verdere ondersoeke is uitgevoer in die hiper-moderne hartkateterlaboratorium van die kinderkardiologie eenheid by die Universitas Akademiese Hospitaal.
Angiogramme is gedoen om die graad van aantasting te bepaal. Hierdie ondersoeke is uitgevoer deur pediatriese kardioloë Prof. Stephen Brown en Dr. Danie Buys.
Lehakwe se kroonare het abnormale uitgesette aneurismis gevorm, wat die moontlikheid van ruptuur ingehou het.
Die groot herstel van Lehakwe se hart is intensief beplan deur ‘n bekwame span- bestaande uit ‘n kardioloog, narkotiseur, perfussie- en kliniese tegnoloë en die kardiotorakschirurge.
‘n Hoogs unieke ope-hart operasie is onder die leiding van die kardiotorakschirurge Prof. Francis Smit en Dr. Johan Jordaan uitgevoer in die Life Rosepark Hospitaal. Ope-hartchirurgie behels dat die kind se hart gestop moes word waarna die hart-long masjien sy sirkulasie oorneem.
Tydens die nege uur lange operasie het Prof. Smit die seuntjie se aortaklep met n menslike donor klep, bekend as ‘n homograft (foto2), vervang en terselfdertyd dubbele omleidings na die kroonare uitgevoer.

Verskaf
Wat hierdie hoogs gevorderde spesialis-werk so uniek maak is dat die siekte waaraan klein Lehakwe lei baie skaars voorkom by kinders en dus is dit tegnies meer uitdagend. Volgens Prof. Smit “was die interne deursnit van die kroonare sleg 1,5mm.
Die omleidings is gedoen met Lehakwe se eie are wat aan die binnekant van die borskas voorkom. Tydens die prosedure is daar gevind dat die bloedvoorsienning na sy linker ventrikel nie voldoende is nie, en is die kroonaar ook geherinplanteer op die aorta.”
Na die prosedure is Lehakwe oorgeplaas na die pediatriese intensiewesorgeenheid in Life Rosepark waar hy behandel en versorg is deur ‘n hoog bekwame span bestaande uit intensiewesorg verpleegkundiges en pediaters onder die wakende oog van Dr Johan Jordaan. Lehakwe was vir enkele dae geventileer en hy het spesiale middels benodig.
Lehakwe se ouers is baie gelukkig met die uitkoms van die hart operasie op hul seuntjie en kan nie wag om hom weer te sien rondhardloop nie. Lehakwe het goed aangesterk na sy operasie en is onlangs ontslaan uit die hospitaal.
-Verklaring uitgereik