Kalbassie-hasies ‘tree af’ saam met juffrou ná 35 jaar

0
875
Petra Kleynhans, wat op 3 Maart 1986 haar Hasie Kalbassie-speelgroep in Bloemfontein begin het.

‘n Era van speel, leer en grootword sal verby wees vir die Hasie Kalbassiespeelgroep in Bloemfontein se kindertjies wanneer die deure van dié gewilde speelgroepie aan die einde van 2021 sluit en hul juff rou, Petra Kleynhans, die tuig neerlê.

Kleynhans, eienaar van die speelgroepie, het Hasie Kalbassie op 3 Maart 1986 begin. “Ná 35 jaar sluit ons aan die einde van die jaar die skooltjie se deur. As ek terugdink, sien ek hoedat God sy hand oor ons gehou het en Hy elke dag elke kleuter veilig bewaar het.”

Volgens Kleynhans is die saadjie om met kleuters te werk reeds in haar Sub A-jaar deur haar juff rou, Lorraine van Wyk, in Fort Beaufort geplant. Sy vertel dat sy in 1970 onderwys begin studeer het aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege en daarná skoolgehou het vir ‘n paar jaar. Oor die jare het 657 kleuters by Hasie Kalbassie ‘n tuiste gevind en gespeel en baljaar soos wat net besige kindertjies kan doen. Kleynhans vertel dat vier van haar eie kleinkinders ook deel was van die speelgroepie. “My man, Jannie, en my kinders is my grootste ondersteuners,” sê sy. Vir Kleynhans was die ondersteuning van die ouers deur die jare absoluut kosbaar. Sy beskou die ouers as “die ratte van die skool”.

Daar was deur die jare kindertjies van wie die ouers ook deel van haar speelgroepie was. “Hierdie jaar is ek bevoorreg om drie kleuters te hê wie se mammas ook kleuters by die skooltjie was. Ek het ook steeds kontak met heelwat van die kleuters, waarvan baie reeds getroud is.” Kleynhans sê sy gaan beslis die borrelende laggies van die kinders mis, maar dit het tyd geword om af te tree en sy is dankbaar vir die goeie jare wat sy kon help bou aan die opvoeding van soveel gelukkige kleuters.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za