‘Kaalvoetkjint’ se verhaal roer

0
474
Kaalvoetjint se hart lê in Gatvol. . . Annicy Brussel (47), ’n tandartsassistent van Johannesburg, het Maandag haar boek Kaalvoetkjint van Keimoes, wat handel oor haar grootwordjare, aan haar ma, Sherene Brussel (71), in die Gatvol-plakkerskamp in Heidedal oorhandig. Tydens die geleentheid was van links Sherene Brussel, Jansen van Vuuren (projekbestuurder van die FAK), Marthinus (Tienie) Brussel, Annicy Brussel, Carl (Tienie) Theunissen (draaiboekskrywer, regisseur en joernalis) en Seugnet van Zyl, (kommunikasiebeampte van die FAK). FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Doodgewone gesprek met ‘n vreemdeling oor haar kinderjare in die Noord-Kaapse dorpie Keimoes, sou Annicy Brussel (47) ‘n tandartsassistent van Johannesburg, nooit kon laat dink dat sy op 40 ‘n boek sou skryf wat haar lewe sou verander nie.
Carl (Tienie) Theunissen, navorser en regisseur, het dié interessante tandartsassistent toevallig in ‘n tandarts se spreekkamer ontmoet. Vyf jaar later oorhandig Brussel haar boek oor haar grootwordjare aan haar moeder in die Gatvol-plakkerskamp in Bloemfontein.
Toe ‘n emosionele Brussel op Maandag 6 Augustus boek, Kaalvoetkjint van Keimoes, aan haar ma, Sherene Brussel (71), oorhandig, het sy gesê, “Vir ons was dit net om skool klaar te maak en om vir Mamma en Dedda te help. Ek kon hulle trots maak met dinge wat ek graag wou doen vir hulle in my pa se afwesigheid. Ek lewe nog steeds vir my ma en ek sal vir haar lewe tot die dag dat sy nie meer daar is nie, want alles kom terug – ek ploeg terug in wat hulle in my gesaai het.”

‘n Emosionele Sherene Brussel (71) troos haar dogter Annicy Brussels omdat sy haar trane nie kon terughou terwyl sy haar storie vertel nie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Volgens ‘n resensie geskryf deur prof. Christo van Rensburg, is hierdie ‘n heerlike ongekunstelde verhaal. “Die verhaal van meer as haar reis. Nie net na die groot stad toe nie. Die groot reis van volwasse word en van aanpas, van riethuis tot steenhuis, en van paaie waarop haar voete nou anders loop omdat die ou weë ook verander het. Die reis na die vervloë tyd is ook haar binnereis. Sy bevestig weer die bande met die ankers van haar kleintyd, waar Ma en Antie en Dedda meer word as net woorde, en saam met haar geloof, ankers bly. Waar onthou bewaar word, spookbeelde werklikheid kan wees. Waar kontraste nie keuses afdwing nie, maar insig skep.”
Die publikasie van die boek het met die welkome betrokkenheid van die FAK moontlik geword. Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK, beskryf Brussel se boek as ‘n storie wat lesers op ‘n nederige reis neem. “Die wonderlike verhaal van Brussel neem lesers op ‘n lewensveranderende reis. Van geloof, na kerk op Sondae, van skoolbanke van Maandae tot Vrydae, tot partytjies op Saterdae waar daar lekker geskoffel is.”
Kaalvoetkjint is ‘n reis in die verlede, van ‘n Afrikaanse vrou na haar wêreld van gister. Die skryf-gogga het Brussel behoorlik gebyt en sy is tans besig met haar tweede boek.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za