Inwoners vra ordentlike oplaaipunte vir rylopers

0
477
Tot ambulanse tel rylopers op in Raymond Mhlabaweg.

‘n Inwoner van Raymond Mhlabaweg in Bloemfontein is raadop nadat hy die afgelope aantal maande talle versoeke aan plaaslike owerhede gestuur het om aandag te gee aan die onwettige oplaaipunt vir rylopers voor sy huis.

André Hamman sê sy pleitdooie by onder meer die Mangaung Metro Munisipaliteit en die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer het tot dusver op dowe ore geval.
Volgens Hamman is die motors wat tydig en ontydig onwettig in die pad parkeer om rylopers op te laai, nie net ‘n veiligheidsrisiko omdat dit ongelukke kan veroorsaak nie, maar ook ‘n euwel wat tot talle maatskaplike probleme kan lei.

“Daar is uit die aard van die saak geen toilette by die oplaaipunt nie, wat daartoe lei dat mense die sypaadjie gebruik om hul nood te verlig. Nie net hou dit gesondheidsgevare vir die inwoners in nie, maar ook vir die rylopers, wat dikwels ure lank daar moet staan en wag vir ‘n saamrygeleentheid.

Voertuie wat oral in Ramond Mhlabaweg stop om rylopers op te laai, veroorsaak baie verkeersprobleme, sê inwoners.

“Van die mense wat hier op ‘n geleentheid wag, maak hulle baie keer skuldig aan drankmisbruik. Dit lei tot allerhande probleme, soos lawaai tot laatnag asook bakleiery. Behalwe dat dit vir ons as inwoners groot hoofbrekens besorg, kan dit nie goed wees vir die kinders wat soms saam met hul ouers op rygeleenthede wag nie.

“Daar is ook nie vullisdromme wat rylopers kan gebruik nie, wat daartoe lei dat rommel oral in die pad gestrooi word. Na ‘n besige naweek kan bottels en papiere oral gesien word. En as ek met van die oortreders oor dié dinge praat, raak van hulle aggressief,” sê hy.

Bottels lê oral gestrooi na ‘n besige naweek by die oplaaipunt vir rylopers in Raymond Mhlabaweg.

Hamman het aan Bloemfontein Courant talle voorbeelde van briewe gewys wat hy al aan die relevante owerhede gerig het, met min sukses. Behalwe dat die munisipaliteit soms die rommel kom verwyder en die verkeersmense soms aandag aan verkeersprobleme voor die oplaaipunt gee, is daar geen blywende oplossing nie.

“Wat ek wil hê, is dat die owerhede ‘n permanente oplaaipunt vir rylopers moet bou, een waar rylopers in veilige en ordentlike omstandige op rygeleenthede kan wag. Daar is volop plek in die pad waar so iets gebou kan word. As die owerhede maar net na my en ander inwoners se pleitdooie wil luister.” – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za