E Copy

Date:

Harmse gooi weer “wêreldrekord” in hamergooi los

Die Vrystaat het die afgelope naweek ‘n skamele twee goue medaljes by die Suid-Afrikaanse (SA) senior-atletiekkampioenskappe wat in Pretoria beslis is, ingeoes. En, dit sluit boonop die 44-jarige Sasolburger, Chris Harmse se goud in die hamergooi in.

Harmse, wat 31 Mei sy 45-ste verjaardag vier, het in Pretoria dié titel vir die 23-ste jaar agtereenvolgens sy eie gemaak. Hierdie onderskeiding is ‘n “wêreldrekord” in eie reg, want geen atleet in die wêreld kon sy of haar nasionale seniortitel in dieselfde nommer soveel keer agtereenvolgens wen soos Harmse vermag het nie.

Harmse het ook die Afrika-titel ses keer in sy roemryke loopbaan verower en spog steeds met ‘n Suid-Afrikaanse rekord van 80,63m wat sedert 2005 op die rekordboeke pryk.

Hy was in 2010 in New Delhi as Statebondspele-kampioen gekroon en het voor dit (1998 en 2006) die bronsmedaljes sy eie gemaak by dieselfde spele.

Sy genoemde 23-ste SA-titel was egter nie ‘n gegewe nie, want een van sy voormalige leerlinge, Tshepang Makhete (Noordwes), wie Harmse ‘n klompie jare gelede touwys gemaak het in Sasolburg, het deurgaans in sy nek geblaas. Maar, Harmse se ondervinding het uiteindelik die knoop deurgehaak met ‘n afstand van 70,62m.

Makhete, voormalige SA jeug- en juniorkampioen moes tevrede wees met die tweede plek (69,01m) terwyl Carel Haasbroek (Noordwes, derde, 68,79m) ook opsy moes staan vir nog ‘n Harmse-oorwinning.

Die Vrystaat se tweede titel het ook in ‘n veldnommer gekom. Die Olimpiese-spele (2016, Rio de Janeiro) verspringer, Lynique Beneke (néé Prinsloo), wat haar onlangs saam met haar man en internasionale hekkiesloper, PC Beneke in die Rosestad kom vestig het, het in Pretoria die verspringtitel vir vroue met ‘n sprong van 6,22m gewen.

Dié afstand skiet nog heelwat tekort in vergelyking met haar beste (6,88m) wat sy vyf jaar gelede teen ‘n wind van 1,2 meter per sekonde in Stellenbosch vermag het, maar haar vertonings behoort binnekort weer ‘n opwaarste kurwe te beleef sedert sy haar bygevoeg het by die bekende verspringafrigter, Emmarie Fouché se sterk groep ver- en driesprongatlete by die Kovsies.

Beneke is in Pretoria gevolg deur Zinzi Chabangu (Sentraal Gauteng, 6,18m) en Kelly Kingwell (Oostelike-provinsie, 5,77m).

Vrystaatse senior-atlete se silwer- en bronsmedalje-oes in individuele nommers het ook nie wenkbroue laat lig nie. Slegs twee atlete kon silwer en ‘n verdere twee kon daarin slaag om op die podium te verskyn in Pretoria.

Hulle is Rynhardt van Rensburg (tweede, 800m vir mans, 1:46,67), Lara Orrock (tweede, 3000m-hindernis vir vroue, 10:58,07), Yolandi Stander (derde, diskusgooi vir vroue, 51,91) en die junioratleet van die Hoërskool Jim Fouché, Tharina van der Walt wat haar goed van haar taak gekwyt het met haar derdeplek in die hamergooi (57,12m). – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...