Die fokus op families is nodig

0
2303
Ian Marx, Derick Lues en Janney Lues

Die Mighty Families-samekoms wat van 16-18 Maart 2018 op die plaas Wilde Als buite Bloemfontein plaasgevind het, het mense se lewens verander en volgens ‘n paar mense wat Courant te woord gestaan het, ‘n gevoel van samehorigheid onder die Christengemeenskap geskep.
Janney Lues het gesê: “Daar is soveel families wat gebroke is, pa’s wat wegloop, ma’s wat nie meer hul eie kinders wil hê nie en daarom sal dit goed wees as Mighty Families jaarliks gehou word. Ek het Radikids, wat deur tannie Soekie (Krog) aangebied is, baie geniet. Sy het die kinders so mooi geleer dat Jesus jou altyd liefhet.”
Derick Lues: “Ek het geleer dat jy die Here kan liefhê net soos wat jy wil en dat niemand vir jou hoef te sê hoe om jou lewe te leef nie. Dis goed vir ons familie, want dit het ons ook meer van Jesus Christus geleer.”
Ian Marx: “Die hele geleentheid was vir my ‘n wonderwerk. Donderdag was die paaie en die veld nog vol modder en toe ons Vrydag by Wilde Als aankom, het alles opgedroog en die planne het mooi bymekaargekom. Ek is baie dankbaar dat hier op die laaste dag uiteindelik baie mense gekom het. Ek wil net vir almal wat hard gewerk het en dit moontlik gemaak het, dankie sê.”
Elmarie Goodchild: “Ek dink Mighty families is nodig, veral met die fokus op families. Die opset is bietjie anders as ‘n kerk; waar dit dalk gewoonlik bietjie styf is, is hierdie lekker vir die kinders, want hulle is betrokke.”
Brett Bircher: “Ek dink die plan, etos en boodskap is wonderlike, maar om dit volhoubaar te maak vir die toekoms het die die ondersteuning van die gemeenskap en omliggende dorpe nodig. Dit kos baie geld om ‘n geleentheid soos hierdie aan te bied en dit moet beter ondersteun word. Die boodskap is goed en families moet saamstaan. Basiese familiewaardes is belangrik.”
Cobus Coetzee: “Ek dink vir seker dat dit ‘n wonderlike geleentheid was. Daar was reën voorspel vir die hele naweek, maar ons het niks reën gekry nie. Dit was die eerste bewys dat die hand van die Here oor ons was, oor die hele naweek. Alhoewel dit koud was, het die mense steeds die geleentheid kom bywoon. Die lofprysing het die mense met warmte, in die gees van die Here gelei, en dit was fantasties.”

ZILKE PRINSLOO

zilke@mahareng.co.za