Grey Kollege en Hoër Meisieskool Oranje se eerste-hokkiespanne is Saterdag by die Kovsies se Astro-bane in Bloemfontein gekroon as die onderskeidelike Vrystaatkampioene vir seuns en meisies (o.18’s).
In Grey se wedstryd teen St. Dominic (Welkom) by die toernooi wat op rondomtalie-grondslag beslis is, het die Bloemfonteiners geen genade betoon nie en met 4 – 0 geseëvier. Willem Strydom (2), Philip Terblanche en Raymond de Villiers het vir Grey doele aangeteken.
In die Grey-manne se wedstryd teen die Hoërskool Kroonstad het dinge nie so maklik gegaan nie en hulle moes hard werk om die Kroonstadskoliere met 1 – 0 te troef. Shaun Deane het vir Grey agter in die doelhok gaan draai maak.
Teen Voortrekker (Bethlehem) was dit egter weer eenrigtingverkeer vir Grey en hulle klop die Bethlehemiete met ‘n reuse 8 – 0.
Die veelsydige Heinrich Bruhns het twee keer vir Grey doele aangeteken en sy spanmaat, Terblanche was weer daar, dié keer ook met twee doele. De Villiers, André Bellingan en Verster Venter was ook suksesvol met doele vir Grey en dit was alles genoeg om Grey as kampioen te kroon.
Oranje, wat oor sy beste eerste-hokkiespan van alle tye beskik (argumenteerbaar), was oudergewoonte onkeerbaar.
Met Antonet Louw (kaptein) aan die spits was Oranje in drie wedstryde betrokke en het al drie met 9 – 0 gewen.
In hulle wedstryd teen die Hoërskool Sasolburg het Louw vier doele laat klap en Marli van Deventer, wie se vlugvoetigheid en puik stokwerk nie ongesiens verbygegaan het nie, twee doele. Simoné Gouws, wat self ‘n puik toernooi beleef het, het een doel teen Sasolburg aangeteken.
Teen Welkom Gimnasium was Louw weer bo aan die lys, dié keer met vyf doele. Gouws, Elzani van Aswegen, Charlise Hugo en Lizanne Jacobs was verantwoordelik vir die ander vier doele.
Nog ‘n slagting. In Oranje se laaste wedstryd van die jaar was Witteberg (Bethlehem) aan die ontvangkant en hulle kon óók nie ‘n doel teen die Bloemfontein-meisies vermag nie. Louw het hier met haar vyfde doel van die wedstryd haar 300ste doel aangeteken vir Oranje se eerstes en is goed bygestaan deur Hugo (2), Gouws en Frances Louw.







