Goedhartigheid gee seun nuwe hoop

0
1519
Jonathan Barnard is in die hospitaal opgeneem nadat sy femur tydens ‘n rugbywedstryd gebreek het.

Bloemfonteiners se goedhartigheid het ‘n jong rugbyspeler van die Hoërskool Fichardtpark nuwe hoop vir die toekoms gegee nadat hy op Saterdag 7 Mei ‘n baie ernstige besering tydens ‘n rugbywedstryd opgedoen het.

Hulp het uit alle oorde ingestroom vir Jonathan Barnard, wat tans in die hospitaal aansterk nadat hy sy femur baie sleg tydens die rugbywedstryd gebreek het. Al wat Jonathan van dié voorval kan onthou is dat hy “ge-tackle is” en ander seuns bo-op hom geval het. Hoewel hy in baie pyn was, het hy volgens omstanders sterk gestaan en moedig vasgebyt totdat hulp opgedaag het.

Jonathan is kort na die voorval na die Pelonomi-hospitaal in die stad gebring waar dokters vasgestel het dat hy dringend ‘n operasie moes ondergaan om die gebreekte femur te herstel. Die kostes verbonde aan die operasie sou egter baie hoog wees.

Gemeenskapslede het egter vinnig die bal aan die rol gesit om geld vir die operasie te probeer insamel. Met die hulp van Jonathan se skool, vriende en familie is daar by inwoners gepleit om ‘n bydrae te lewer sodat Jonathan die operasie kon ondergaan en ook om die kostes tydens die rehabilitasieproses te dek.

‘n Barmhartige Samaritaan, wat anoniem wil bly, het egter op ‘n wonderbaarlike wyse tot Jonathan se redding gekom. Met die bystand van dié onbekende weldoener, is Jonathan op 17 Mei na die Bloemfontein Mediclinic verskuif, waar hy ook die operasie sal ondergaan.

Sy ma, Marisa, meen haar seun se besering tydens die rubywedstryd was ‘n blote ongeluk.

“Ongelukke gebeur mos maar. Dit is defnitief nie iets waarna ‘n mens gaan soek nie. Ek is net bly dat my seun nou baie goeie behandeling kry. Ek is baie baie tevrede met die werk wat die dokters sover verrig het,” het sy ma gesê.

Daar lê egter nog ‘n lang pad van herstel vir Jonathan voor. Na die operasie sal hy fisioterapie moet ondergaan, wat ook ‘n groot geldelike las vir die familie teweeg kon bring. Die Nurture Hillendale-hospitaal in Woodland Hills het gelukkig aangebied om hom met die rehabilitasieproses by te staan.

Die familie het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor elke Barmhartige Samaritaan wat ‘n bygedra gelewer het tot die koste van Jonathan se behandeling sover, hetsy vriende, vreemdelinge of familielede.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za