Louzanne Coetzee & Maricelle Botha
Joernalistiek is beslis nie een van die maklikste beroepsvelde om te betree nie. Dit is selfs vir ‘n gewone persoon ‘n mededingende en uitdagende bedryf; ‘n beroep met ‘n vinnige pas, talle onvoorspelbaarhede en baie druk.
Dit het Louzanne Coetzee egter nie afgeskrik nie. Ten spyte daarvan dat sy siggestremd gebore is, het sy besluit om ná skool geïntegreede, korporatiewe en bemarkingskommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Sy is tans ‘n derdejaar en het die afgelope maand haar hand aan joernalistiek gewaag toe sy as student-joernalis in Bloemfontein Courant se nuuskantoor gewerk het.
"Gelukkig het uitdagings my nog nooit teruggehou nie. Ek glo ‘n mens kan enigiets doen as jou wil en deursettingsvermoë sterk genoeg is. Ek glo nie dat my blindheid of die feit dat ek meer uitdagings as ander het, my moet terughou nie. Dit is hoekom ek besluit het dat uitdagings soos uitgaan na nuusstories, fotografie, en nog vele meer, my nie gaan keer om in Julie hier te werk nie," vertel sy waar sy agter haar lessenaar sit.
"In my derde week in die nuuskantoor het ek reeds twee stories vir Courant geskryf en ‘n nuusinsetsel gemaak vir OFM Nuus. Dit was baie opwindend. Ek het nie net ervaring in beriggewing en nuusinsameling gekry nie; ek het geleer oor mense, hantering van verhoudings, die regte manier om kollegas te behandel en hoe om in ‘n span te werk. Ek het geleer hoe om my eie instink te volg en hoe om op "tips" vir stories te reageer."
Coetzee vertel die eerste treffende ding toe sy begin werk het, is die feit dat sy onafhanklik kon optree in haar werk. "Dit is lekker, maar ook tog skrikwekkend – ek het uiteindelik die grootmenswêreld betree. Ek kan kies waaroor ek skryf, hoe ek die storie wil skryf en watter leidrade ek wil volg. Skielik besef ek die dag wanneer ek my eie potjie moet krap is nie ver nie. Ek besef ek sal vinnig moet begin leer hoe om die werksomgewing te hanteer. Die ervaring wat ek by Courant opdoen, gee my die geleentheid om dit te begin leer doen."
Sy vertel dat moontlike uitdagings wat sy in die toekoms nog sal moet oorkom iets so eenvoudigs is soos om van punt A na punt B te kom, of waar fotografie betrokke is. Sosiale media, webtuistes en rekenaarwerk het sy reeds baasgeraak danksy ‘n spesiale spraakprogram waartoe sy op enige rekenaar toegang het.
"Ek sien ongelooflik baie daarna uit om die res van my Julievakansie saam met die span deur te bring. Ek wil graag nog baie by hulle leer en my ervaringsveld selfs meer uitbrei om bemarking, uitleg en joernalistiek te ondersoek en te beleef. Niks gaan my terughou nie!"
Date:







