Maricelle Botha
Op 21 Desember 2012 het verskeie mense gereed gemaak vir die wegraping soos kwansuis voorspel deur die toentertydse Mayas. Daar was egter geen wegraping nie, maar wel ’n groot verlies. Sentraal Suid-Afrika het afskeid geneem van een van hul mees geliefde radio-persoonlikhede, Eloise Pretorius. Sy was skaars 15 jaar oud toe sy vir die eerste keer agter die mikrofoon ingeskuif het. Op die ouderdom van 16 het sy haar by die eertydse Radio Oranje (nou OFM) aangesluit.
As skoolkind het sy eendag vir ’n stemtoets by KovsieFM gegaan en hoewel sy die enigste skoolkind tussen talle studente was, het sy die pos as omroeper losgeslaan. Dit is hier waar Radio Oranje haar gehoor het en haar dadelik genader het vir ’n pos by dié stasie. “Ek is gebel en gevra om ’n afspraak te maak. Ek dink hulle het ’n volwassene met ’n rybewys verwag en instede daarvan het hulle my een middag ná skool gekry. Ten spyte daarvan het hulle besluit om my ’n kans te gee, en dit was die kans van ’n leeftyd,” vertel Pretorius wat nog tot verlede week agter die skerms by OFM betrokke was. Die eerste keer wat luisteraars haar op die lug gehoor het, was in ’n program getiteld PG18 saam met Gary Stroebel, nou Central Media Group se hoof-uitvoerende beampte. Daarna was sy die stem agter ’n naweek ontbytprogram en toe die top treffersprogram.
“Ek het net mooi elke program op hierdie radiostasie aangebied,” lag sy. Sy het regdeur haar laaste paar jaar van skool en al haar jare op universiteit voltyds by OFM uitgesaai. Wat min mense egter weet is dat Pretorius jare lank al betrokke is by OFM se musiekkantoor en die afgelope vier jaar die musieksamesteller verantwoordelik vir die stasie se speellyste en tema-naweke was. “Musiek is my religie, musiek is in my DNS, musiek is die ding wat ek die heel graagste wil doen,” vertel sy passievol. En dit is juis haar groot liefde vir musiek wat haar reeds op driejarige ouderdom na ’n klitserstokkie laat gryp het om ’n ‘radio-uitsending’ vir haar ouers te lewer. As ’n mens na die uiters professionele Pretorius op die radio luister, vergeet jy maklik dat die persoon aan die anderkant van die mikrofoon ’n doodgewone mens is. “Mense weet dit nie, maar ek is al deur verlies aan naastes, ek het ’n insident met my blindederm gehad terwyl ek besig was om uit te saai, ’n mens kom goed oor, maar the show must go on.”
Sy vertel dat sy eintlik besonder skaam is, ’n eenkant mens wat ure in haar eie geselskap deurbring. “Mense is gewoonlik nogal teleurgesteld as hulle my ontmoet, ek het dit al regdeur my loopbaan teëgekom, want ek is skaam. Mense sal dit nou nogal nie glo van iemand op radio nie,” vertel sy. Sy reis graag op haar eie en vertel dat fietsry veral vir haar sielstyd is. Maar waarheen is sy op pad? Pretorius sluit haar eersdaags aan by ’n splinternuwe kommersiële radiostasie in Kaapstad waar sy die ontbytprogram sal behartig. Sy vertel ook baie geheimsinnig van televisie vooruitsigte, so hou daai kassie dop, een van die dae kuier Eloise Pretorius weer in jou voorhuis.