Met een voet in die graf

0
Met een voet in die graf

Lani Fouché

Inwoners van Bainsvlei buite Bloemfontein is behoorlik skrik op die lyf gejaag toe hulle ’n voet by die grond sien uitsteek het by ’n plaaslike begraafplaas. ’n Groep kinders wat verlede week sokker gespeel het naby die begraafplaas in Stormlaan, het op ’n voet, geklee in ’n kous en skoen, aan die onderkant van ’n oop gat afgekom. Die polisie is ontbied, maar met nadere ondersoek het aan die lig gekom dat dit slegs ’n kunsbeen was wat met die voet-gedeelte bokant die grond uitgeloer het.

Dit het egter inwoners op hol gehad. “Dit het vir my soos ’n moord gelyk. Dis mos die perfekte plek om ’n liggaam te gooi sonder dat iemand onraad bemerk,” vertel Johan Niewenhuys, wat reg oorkant die begraafplaas woon. Hy sê hulle was aanvanklik baie ontsteld oor dié ontblote voet en bekommerd oor die gesondheidsgevare wat dit kan inhou, maar was verlig om te hoor dit is net ’n kunsbeen.
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Annelie Wrensch, het bevestig dat die polisie daarheen is om ondersoek in te stel. “Ons polisielede het sommer self ingespring en begin grawe. Hulle het nie geweet wat om te verwag nie, en was baie verlig om te sien dat dit ’n kunsbeen was.” Polisie kan nog nie met sekerheid sê dat die been daar geplant is as deel van ’n grap en of dit bloot daar weggegooi is nie.

No posts to display