E Copy

Date:

Elke outjie maak ‘n foutjie

Daar is maar altyd dinge in ‘n mens se lewe waarop jy terugskouend nie baie trots is nie. Elke outjie maak ‘n foutjie. Sommige van ons meer as ander.
Oor party van my mistastings voel ek nie te skuldig nie. Soos toe ek amper ons huis daar op Vrede afgebrand het met een van my “eksperimente”.
Destyds was ‘n gewilde verjaardaggeskenk wat ouers vir hul kinders gekoop het (waarskynlik in die hoop dat ‘n doodgemiddelde spruit dalk sou uitstyg en ‘n beroemde wetenskaplike word), ‘n “chemistry set”. Kompleet met allerhande kristalle, poeiers, proefbuise en ‘n Bunsenbrander (ja, ek onthou daai naam).
Ek het alles uitgepak, net een kyk na die Engelse instruksies gegee, en toe my eie konkoksies gemeng. Is dit nodig om meer te sê?
Een van my ander skandes was die episode met Juffrou Hendriks en die Smarties. Dit was in st. 3 en ek het pas meisies begin ontdek. Vroeg ryp…
Ek onthou dat sy ons een vir een vorentoe geroep het om ons klastoetse by die tafel te gaan haal. Voor gekom, sien ek die hopie los Smarties op die tafel lê, reg langs die pak toetse. En terwyl Juffrou Hendriks rondblaai in ‘n boek, loer ek of die meisies na my kyk. Hier gaan ek indruk maak. Toe ek seker is ek het hulle aandag, toe gaps ek so veel van daardie ronde gekleurde tjoklits as wat ek met een vinnige beweging in my hand kan kry. “Diefstal.” Dis die woord wat Juffrou Hendriks dramaties uitgeroep het toe sy my in die prinsipaal, ou Bles, se kantoor inmarsjeer het. “Hy het gesteel, Meneer,” vertel sy vir die skoolhoof.
En net daar word ek sonder omhaal van woorde ingelig dat ek vir ewig verdoem is. My wandade gaan op my “etlapkaart” kom en my lewenslank soos ‘n skandvlek vergesel.
Of my misdaad toe ooit op die berugte “etlapkaart” aangeteken is, weet ek nie. (Ek sou later hoor dis eintlik Ed Lab.) Maar jare lank het ek van tronke en selle en eensame aanhouding gedroom. En ek het nooit weer gesteel nie.

ALBÉ GROBBELAAR

Share post:

Popular

More like this
Related

CUT women hockey finish fifth at USSA

The Central University of Technology (CUT) Ladies Hockey Team...

Two suspects to appear in court for house robbery

Two men aged 27 and 35 are expected to...

Small food changes can boost energy

Many South Africans struggle with low energy, but the...

Centlec provides update on ongoing power restoration efforts

Centlec has informed residents of Bainsvlei, Mooiwater, Waterbron, Spitskop...