“Heidedal bloei weens dwelms en ons as ‘n gemeenskap is sat daarvoor. Met ons beplande optog op 21 Maart sê ons uit een mond: Tot hiertoe en nie verder nie!”
Aan die woord is Gregory Werner, gemeenskapsaktivis en stigter van die Heidedal Local Drug Action Committee (HLDAC). Werner is ook verlede jaar as Heidedaller van die Jaar gekroon.
Volgens hom is dwelmmisbruik ‘n groot sosiale euwel in die Heidedalse gemeenskap en die HDLAC se optog op 21 Maart is gemik op dwelmbeswusmaking.
“Die doel van die veldtog is ook om die politieke leiers te vra om in te gryp in ‘n situasie wat daagliks agteruit gaan. Heidedal bloei weens die dwelmprobleem en ons doen ‘n beroep op elke Heidedaller – oud en jonk – kerke, nie-regeringsorganisasies en sakelui om hulle by ons vreedsame optog aan te sluit,” sê Werner.
Die HDLAC vra ook dat gemeenskapslede wat aan die optog gaan deelneem, swart klere moet aantrek om hul medelye te toon met dwelmslagoffers, hul families, asook die breër gemeenskap vir pyn en lyding wat dwelms in hul lewens veroorsaak.
Die HDLAC verwag ‘n groot opkoms vir die optog wat om 08:00 op 21 Maart begin. Optoggangers kom om 08:00 by twee punte in Heidedal byeen. Die een groep kom by die Engen-vulstasie in Dr. Belcherweg bymekaar, terwyl die tweede groep dieselfde tyd by die Clive Solomon-stadion in Heidedal sal vergader.
Daarná sal die twee groepe gelyktydig na die Heidedal-polisiekantoor beweeg waar memorandums aan die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metroraad, raadslid Olly Mlamleli, asook die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Lebeoana Tsumane, oorhandig sal word.
“Heidedal kry op 21 Maart geleentheid om aan die dwelmsmouse in die gemeenskap te wys dat ons nie langer gaan toekyk hoe hulle ons jong mense se toekoms vernietig nie,” het Werner aan Voice gesê. – Pieter DelportÂ
info@bloemfonteincourant.co.za
Date:
Dwelms: ‘Tot hiertoe en nie verder’
Gregory Werner, stigter van die Heidedal Local Drug Action Committee.