Die kans dat jou fi nansies nou onder druk is, is baie waarskynlik. Die kans dat jou finansies vir die aansienbare toekoms steeds onder druk gaan wees, is net so waarskynlik. Jy het ook al moontlik, soos baie ander, by die verskillende instellings met wie jy sake doen begin uitvind oor watter finansiële verligting aan jou beskikbaar is.
Ek gesels daagliks met persone wie se salarisse met 30%, 40% en selfs 65% gesny is. Selfs pensioenarisse wat afhanklik is van ‘n inkomste uit beleggings, trek swaar en baie van hulle trek tans ‘n inkomste uit hul kapitaal, aangesien beleggingsopbrengste doodeenvoudig net nie daar is nie en rentekoerse aansienlik gedaal het oor die afgelope ses maande.
Ek weet daar is baie mense wat nie veel van ‘n keuse het as om alle fi nansiële verligting wat aan hulle gebied word, te neem nie. As jy egter die luuksheid van keuses het, oorweeg dit tog versigtig, anders gaan jy net jou huidige probleem uitstel tot later. Daar is ‘n paar “dinge” wat jy nou reg sal moet doen. Die meeste van die dinge is heel logies, en is jy reeds van bewus. Moenie nou skuld gaan maak nie; moenie nou oorhaastige besluite neem nie; probeer by jou begroting bly of selfs verder sny; luister na die kundiges eerder as na paranoïese familie en vriende, ensovoorts. Daar is egter twee dinge wat jy moet probeer om níé nou te doen nie. Die eerste is, moenie nou jou versekering sny of erger, kanselleer, nie. Die meeste versekeraars (lang en kort termyn) bied tans ook verligting op premiebetalings.
Die beginsel rondom versekering geld egter steeds: indien jy nie premies betaal nie, sal jy nie dekking geniet nie. Versekeraars oor die algemeen bied dus op die oomblik vir jou verligting op premiebetalings, maar met ‘n negatiewe impak op die dekking wat jy gaan geniet. Moet dus nie nou kanse waag met jou versekering nie; jy kan ‘n erge situasie in ‘n katastrofi ese situasie verander. Tweedens, sou jy teen dié tyd gehoor het dat jy nou jou lewende annuïteit se inkomstevlak kan verhoog tot ‘n maksimum van 20% van kapitaal per jaar, en verlaag tot ‘n minimum van 0.50% van kapitaal per jaar (die normale inkomstevlakperke is minimum 2.50% en 17.50% van kapitaal per jaar).
Sodra die owerhede die nodige papierwerk uitgesorteer het, sal bogenoemde amptelik wees, en geïmplementeer kan word deur die persone wat dit wil doen. Ek glo baie annuïtante daarbuite gaan die eenmalige vergunning aangryp, en onmiddellik hul lewende annuïteite se inkomstevlakke opwaarts aanpas.
Oppas hiervoor; dink eerder mooi. Jy gaan ‘n groter inkomste trek op ‘n kleiner kapitaalbedrag. Dit gaan dieselfde beginsel wees as om jou verliese te realiseer (jy gaan dit nie weer kan “terugmaak” nie). Vandaar dat jy ook die opsie gaan hê om eerder jou inkomstevlak te verlaag na 0.50% van kapitaal per jaar.
Met ‘n verlaging gaan jy jou kapitaal beskerm; jy gaan nie verliese realiseer nie (of minder verliese realiseer), en jy gaan die herstelproses van jou belegging vergemaklik. Jare van nou af gaan jy beter af wees as die persoon wat sy inkomste verhoog het.
Horace Terry







