Owen Kock
Bloemfontein. – Cope is besig om ‘n stadige dood te sterf as daar gekyk word na hul vertoning in die afgelope nasionale verkiesing.
Dit is die mening van die Unisa politieke ontleder Dirk Kotzé, toe hy deur Courant gepols is oor die voortbestaan van die party wat in 2009 opslae gemaak het. Tot en met die 2014 verkiesing was Cope die amptelike opposisie in die Vrystaat, maar moes die knie buig voor die DA wat meer stemme op hom verenig het.
Volgens Kotzé is Cope se vertoning in die vyfde demokratiese verkiesing ‘n aanduiding van waarnatoe die party op pad is.
“Veral in die Vrystaat is dit interessant om te sien dat die ANC en die DA gegroei het, nou wel nie baie nie maar hulle het gegroei terwyl Cope die grootste verloor was. Dit lyk of die grootste aantal van Cope se stemme uiteindelik oorgegaan het na die EFF.
"Dit lyk of Cope in ‘n groot mate een van die werklike klein partye geword het in die Suid-Afrikaanse politiek,” het Kotzê volstaan.







