Die Toyota Cheetahs is slaggereed vir die nuwe seisoen wat al Vrydag begin wanneer hulle teen die Western Force van Australiƫ te staan kom.
Die kragmeting in Bloemfontein sal die eerste van vier wedstryde in die Toyota Uitdaagreeks wees. Aanstaande week sal die twee spanne weer in die Rosestad koppe stamp, terwyl hulle later in September twee wedstryde in Perth sal speel.
Die Curriebeker-kampioene het ‘n amper volsterkte span vir Vrydag se wedstryd gekies, met hier en daar ‘n speler wat sy buiging sal maak.
Die oud-ster van die Universiteit van die Vrystaat Shimlas, Litha Nkula, sal vandeesweek sy debuut vir die Cheetahs maak wanneer hy op die linkervleuel uitdraf in die plek van Daniel Kasende, wat met ‘n kniebesering worstel. Kasende, asook Reinhardt Fortuin, sal fiks wees vir die kragmetings in AustraliĆ«. Nkula het gereeld vir die Shimlas op heelagter uitgedraf, maar hy het spoed en sal maklik aanpas op vleuel. Die speler het ook vroeĆ«r vanjaar tydens die Varsitybeker op losskakel vir die Shimlas gespeel en het gereeld na die pale gemik.
Die skakelpaar sal dieselfde as in die Curriebeker-eindstryd wees, met Ruan Pienaar wat op losskakel begin en Rewan Kruger wat diens doen op skrumskakel.
Onder die reserwes, sal die oud-SA Skole en Junior Springbok stut, Dayan van der Westhuizen, sy buiging vir die Cheetahs maak. Van der Westhuizen, wat voorheen vir die Bulle en Tuks gespeel het, is op ‘n maand lange kontrak by die Cheetahs en kan moontlik ‘n langtermyn kontrak losslaan by die Cheetahs of elders. Van der Westhuizen het onlangs sy rugby in Japan gespeel en volgens die afrigter, Hawies Fourie, het hy in die Verre Ooste uitgeblink.
Fourie het aan Bloemfontein Courant gesĆŖ dat daar baie opwinding is om weer te speel, maar dit sal vir beide spanne taai wees aangesien albei die afgelope paar maande nie gespeel het nie.
“Ons sien daarna uit om weer op die veld te wees en te speel,” het Fourie gesĆŖ, wat op sy beurt tydens die afseisoen ‘n knievervanging ondergaan het.
“Dit is wonderlik om weer in die Toyota Uitdaagreeks te speel – dit gee vir ons almal die geleentheid om as ‘n span te groei. Ons wil beter word en as ‘n span voel ons dat ons nog nie ons beste bereik het nie. Ons het vir onsself doelwitte gestel en ons wil verbeter in die areas waarop ons gewerk het tydens die voorseisoen.
“Ons weet dat dit taai sal wees aangesien ons twee maande laas gespeel het en daar sal foute wees, maar die Force sal in dieselfde bootjie wees. Hulle het tot en met Mei Super Rugby gespeel en was drie maande laas in aksie.”
Vrydag se kragmeting tussen die Cheetahs en die Force by die Toyota-stadion skop om 17:00 af.
Cheetahs – 15 Tapiwa Mafura, 14 Cohen Jasper, 13 Evardi Boshoff, 12 Robert Ebersohn, 11 Litha Nkula, 10 Ruan Pienaar, 9 Rewan Kruger, 8 Friedle Olivier, 7 Sibabalo Qoma, 6 Gideon van der Merwe, 5 Victor Sekekete (kaptein), 4 Rynier Bernardo, 3 Hencus van Wyk, 2 Marnus van der Merwe, 1 Alulutho Tshakweni.
Plaasvervangers – 16 Marko Janse van Rensburg, 17 Schalk Ferreira, 18 Dayan van der Westhuizen, 19 Mzwanele Zito, 20 Daniel Maartens, 21 JeandrĆ© Rudolph, 22 George Lourens, 23 David Brits.
Western Force-toergroep – Albert Alcock, Max Burey, Regi Churchward, Lopeti Faifua, Donny Freeman, Jack Grooby, Ford Hemi, Tom Horton, Fa’amanu Kalolo, Bayley Kuenzle, Justin Landman, Ronan Leahy, Giovanni Leituala, Reesjan Pasitoa, Marley Pearce, George Poolman, Harry Potter, Ian Prior, Jackson Pugh, Henry Robertson, Sam Spink, Tiaan Tauakipulu, Josh Thompson, Carlo Tizzano, Angus Wagner, Jeremy Williams. – MORGAN PIEK







