FWA se inisiatiewe teen misdaad

0
FWA se inisiatiewe teen misdaad
FWA se sekuriteitsbestuurders van links is Jan Mokhoje, Jacques Meiring (algemene bestuurder), Ruan Fourie, Rian Malherbe en Jeandré Swarts. FOTO: Verskaf

Die Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie (FWA) het onder leiding van Jacques Meiring as algemene bestuurder ‘n suksesvolle misdaadvry-plan in werking gestel. Volgens Meiring is die FWA sedert 2014 aktief betrokke by die bekamping van misdaad in die Fichardtpark-gebied, en die resultate is duidelik sigbaar.

Hy sê dat die FWA ’n 100%-misdaadvry-plan geïmplementeer het, wat ’n opmerklike afname in misdaad toon.

“Die plan bestaan uit diensvlakooreenkomste met verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye en die bestuur van GPF Sektor 5 (Parkweg). Die plan het daartoe bygedra dat misdaad in Fichardtpark met 85% verminder is,” sê Meiring.

Hy sê ook vir die afgelope twee na drie maande is daar ‘n verdere afname in aangemelde misdaad in Fichardtpark.

“Volgens die Nasionale Polisie Statistiek is daar 1 982 ernstige misdrywe in Bloemfontein aangemeld. Slegs 13 van daardie sake is in Fichardtpark aangemeld. In Julie 2023 was daar geen voorvalle van huisbraak (residensieel) in die buurt aangemeld nie,” sê hy.

Hy voeg by dat inwoners ’n aktiewe rol speel in die proses. Daarom moedig die FWA die gemeenskap aan om waardevolle items nie in motorvoertuie te laat nie om inbraak uit voertuie te verminder.

Die FWA se inisiatiewe sluit ‘n 24-uur veiligheidsdiens in met gekwalifi seerde sekuriteitsbestuurders wat skofte werk.

Daagliks ontvang lede misdaadverslae en daar is samewerkingsooreenkomste met sekuriteitsmaatskappye en ‘n ambulansdiens. Slimkameras word ook gebruik, en ‘n aktiewe radionetwerk, FICH-Net, versterk kommunikasie. Gemeenskapsaktiwiteite word aangemoedig en verdagtes kan by sekuriteitsbestuurders en die gemeenskapspolisiëringforum aangemeld word.

“Navorsing het getoon dat gemeenskapsbetrokkenheid ’n groot impak het op die veiligheid in die woonbuurt. Die FWA streef daarna om gesonde waardes in die gemeenskap te bevorder, soos goeie burgerskap, eerlikheid, hardwerkendheid, trots, sindelikehid, ens.,” sê Meiring.

Hy sê ook dat inwoners aangemoedig word om die woonbuurt se gemeenskaplike eiendom te benut en hulself nie in hul huise af te sonder nie.

“Aktiwiteite in die woonbuurt sal ook help om misdaad te beperk.”

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za

No posts to display