Die Toyota Cheetahs sal vandeesweek na Kemptonpark reis vir hul kragmeting teen die Valke in die SA Beker se sewende rondte.
Die beseringspook het die Cheetahs hard geslaan voor hul kragmeting teen die SWD Arende in George oor die naweek. Daar was minstens 20 spelers op die krukkelys. Hulle het egter vandeesweek meer spelers tot hul beskikking. Verlede week is agt van die Shimlas-sterre, wat die 2024 Varsitybeker gewen het, deur die Cheetahs genooi vir mediese toetse en dié wat fiks is, sal vir die Valke-kragmeting in aanmerking kom.
Die spelers wat vir mediese toetse genooi is, is Neel Volschenk, Ethan Wentzel, Jandré Nel, Jooste Nel, Michael Annies, Pierre Uys, Johnre Stopforth en Zane Bester. Bester is intussen die afgelope week deur die Griekwas gekontrakteer.
Die flank, Volschenk, wat die Shimlas vir ‘n wedsryd of twee aangevoer het, het aan Bloemfontein Courant gesê dit is ‘n groot geleentheid en hy wil dit met albei hande aangryp.
“Om saam met sommige Shimlas-spanmaats na die Cheetahs opgeroep te word, is ‘n wonderlike, lonende gevoel.
“Natuurlik wil jy op die hoogste vlak speel en om na die Cheetahs opgeroep te word is ‘n wonderlike geleentheid vir ons almal.
“Veral vir my is dit ‘n geleentheid wat ek met albei hande wil aangryp. Om van Bloemfontein te kom en reguit uit die skool na die Bulle te gaan en dan terug te kom Vrystaat toe … Hopelik kan ek ‘n impak by die Cheetahs maak en ‘n bietjie speeltyd saam met my Shimlas-spanmaats kry. Hopelik kan ons werklik ‘n verskil by die Cheetahs maak, goeie rugby speel en die geleentheid aangryp.
“Ek weet ek is baie opgewonde en ek is seker al my spanmaats is ook.”
Die Cheetahs se span vir die Valke-kragmeting word Donderdag aangekonding en Saterdag se wedstryd in die Barnard-stadion skop om 15:00 af. – MORGAN PIEK