Die geliefde Bloemskou is op pad terug met ’n vars karnavalbriesie wat vanjaar oor die skougronde waai. Van 25 April tot 3 Mei kan besoekers weer die unieke mengsel van landbou, handel en vermaak geniet.
Met meer as 120 000 besoekers wat jaarliks die skou bywoon, bly dit een van Sentraal-Suid-Afrika se grootste kulturele en landbou-geleenthede.
Elmarie Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van die Bloemskou, beklemtoon dat die bydrae van meer as 350 uitstallers in vier groot uitstalsale ’n sleutelrol speel in die sukses van die skou.

Die skou bied alles van ’n gesonde leefstylsaal tot indrukwekkende vertonings deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Weermag. Motorliefhebbers sal nie teleurgestel word nie, aangesien daar ’n verskeidenheid motoruitstallings is om te bewonder.
Die pretpark, met sy 36 opwindende ritte, staan bekend as een van die hoof-aantreklikhede, terwyl byna 60 kosstalletjies sal toesien dat geen besoeker met ’n leë maag hoef te kuier nie.
Musiek- en vermaakliefhebbers kan optredes deur plaaslike en nasionale kunstenaars soos Die Piesangskille, Ricus Nel, Bernice West en Appel geniet, terwyl kinders ook Dienkie en Doedels op die verhoog kan sien.
Ander hoogtepunte sluit in ’n modeparade, honde-ratsheidvertonings en die Mascot-resies, wat ten bate van Reach for a Dream aangebied word.
Dames wat graag ’n ontspannende oggend wil geniet, kan hul kaartjies bespreek vir die damesoggend op 1 Mei, met gaste soos Donnalee Roberts en Ilse du Preez, ’n spesiale vertoning en ’n ligte ontbyt.
Aan die landboukant is daar net soveel aksie, met 23 kampioenskappe wat aangebied word – waarvan sewe op nasionale en drie op wêreldvlak is. Die grootste opelug-saalperdskou ter wêreld sal weer ’n fees vir die oë wees, met sowat 900 perde wat op skou gaan wees.
Vir meer inligting oor kaartjies, skedules en uitstallings, besoek www.bloemskou.co.za.







