‘n Dankbare boer van Bultfontein, Michris Janse van Rensburg, sê goeie reën is nooit té laat nie. Hy sê dit het sedert Maandag tot en met vanoggend sowat 113mm op sy plaas in die distrik gereën.
Hy sê hy was Maandag bekommerd en sonder hoop dat sy sonnebloem-oes weens die droogtetoestande gaan misluk, maar toe begin dit reën.
Janse van Rensburg sê sy sonneblom-oes baat vir seker by die milde reën. Hy sê dié reën gaan nie nou meer help vir die groei van natuurlike weiding nie, maar daar is op die lange duur steeds hoop. “As jy vat waardeur ons (boere) die afgelope seisoen is, kan ‘n mens net dankbaar wees.”
Die gras gaan nie baie vog deur die winter absorbeer nie, maar dit behoort vroeër in Augustus uit te loop, sê hy. Boere fokus nou op kos vir hul diere met die winter wat om die draai is.
Janse van Rensburg sê sy sonneblom-oes se vogbehoefte was so groot twee weke gelede dat die meer as 30mm reën wat toé geval het, vinnig geabsorbeer is. Die goeie reën vandeesweek het net betyds gekom om sy oes te red. – Christal-Lize Muller