Die blinde atleet van die Kovsies, Danie Breitenbach was Vrydagaand in ‘n verwoestende bui toe hy by die Vrystaatse senior atletiekkampioenskap wat by die Mangaung-stadion in Bloemfontein beslis is saam met sy gids, Marius Wessels vir die 800m-wedloop aangetree het.
Dié kampioenskap was vir atlete wat nie liggamlike gestremdhede het nie, maar AVS (Atletiek Vrystaat) het ingestem dat atlete met gestremdhede mag deelneem.
Vir ‘n blinde atleet met ‘n gids is dit nie ‘n maklike taak nie, veral met die wegspring in ‘n 800m waar daar meer as 20 atlete teen ‘n hewige vaart wegvlieg. Onthou, Breitenbach neem deel in die T-11-afdeling vir atlete wat volkome blind is.
Breitenbach se opwaartse kurwe is opmerklik. Hy het in November verlede jaar die nasionale rekord in die 800m in sy gestremdheidskategorie wat meer as 29 jaar op 2:18,50 op die rekordboeke gepryk het verbeter na 2:16,46. Hy het kort daarna (ook November) dié einste rekord verder verbeter na ‘n puik 2:15,17.
Gemeet aan die vaart waarmee Breitenbach Vrydagaand die eerste 200 m afgelê het en boonop met ‘n paar stampe en stote moes onderhandel, was dit duidelik dat hy op ekspidisie-SA-Rekord was.
Hy en Wessels het die eerste 400m in ‘n kookwater 64,5 bereik en dit was duidelik dat die genoemde rekord in die slag kan bly. Hoewel Breitenbach en Wessels se tempo afgeneem het van die 400m tot 600m-merk, het hulle die krane die laaste 200m behoorlik oopgedraai en Breitenbach het sy eie nasionale rekord verpletter na 2:13,57.
Breitenbach het na die wedloop gesê: “Ek is nie tevrede met my wedloop nie en sal graag nader aan 2:10 wou gehardloop het”. Soos sy vaart deesdae in die 400m-wedloop verbeter en sy uithouvermoë self ‘n puik opwaartse kurwe toon, behoort hy by die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir atlete met gestremdhede (einde Maart) die magiese 2:10 grens te oorskrei.
¦ Die ander blinde Kovsies-atletiekster, Louzanne Coetzee het self ‘n goeie wedloop beleef toe sy in die 1500m-wedloop vir seniorvroue baie gemaklik gekwalifiseer het vir die wêreldkampioenskap wat later vanjaar in Toronto (Kanada) beslis word.
Sy en haar gids, Rouxné Jacobs het ‘n mooi tyd van 5:45,86 aangeteken en dis goed onder die genoemde standaard van 6 minute.







