Die feit dat van die Vrystaat se voorste middelafstandatlete soos Johan Cronjé, Dumisane Hlaselo en Rynhardt van Rensburg (almal Kovsies) nie Maandag aan die eerste van KovsieSport se De Villiers Lamprecht gedenkstraatmylbyeenkoms deelgeneem het nie, het beslis nie afbreek gedoen aan die goeie gees waarin dié byeenkoms Maandag op die Kovsiekampus in Bloemfontein beslis is nie.
Die hoeveelheid deelnemers van al die Kovsies se koshuise het vir die afwesigheid van die groot name vergoed. Die wedloop is na Lamprecht vernoem. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat die mylwedloop in minder as vier minute kon voltooi toe hy op 13 November 1964 dié onderskeiding met ‘n tyd van 3:59,6 behaal het en dit boonop kaalvoet. Lamprecht was jare lank ‘n atletiekafrigter by Kovsies en spog met verskeie voormalige nasionale kampioene en oud-Springbokke en was teenwoordig by die by die byeenkoms.
Die voormalige internasionale middelafstandatleet in die jeug- en junior afdelings, Danél Prinsloo (Kovsies) het die kollig gesteel by dié byeenkoms.
Prinsloo (Marjolein) het eers in die wedloop vir vroue-koshuise van die Kovsies oorwinning gesmaak in ‘n mooi tyd van 5:17. Sy is gevolg deur verlede jaar se silwermedaljewenner by die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap (1500 m), Marné Mentz (Wag-‘n-Bietjie, 5:20) wat drie sekondes agter Prinsloo geëindig het. Cherise Sims (Welwitchia, 5:21) was slegs een sekonde agter Mentz en die derdeplek.
Prinsloo (Kovsies) het kort daarna ook aan die wedloop vir vroue in die ope afdeling aangetree en weer oorwinning gesmaak in ‘n sekonde vinniger (5:16) as haar eerste wedloop. Dié wedloop was egter in die weegskaal tot by die einde, want Claire Cronjé (individueel, 5:17) het in ‘n naelloop einde toe slegs een sekonde agter Prinsloo klaargemaak.
Annah Moeketsi (Transnet) wat beter bekend is vir langer padwedlope was derde in 5:26.
Ruan Meintjies (Armentum) het Prinsloo probeer nadoen met twee oorwinnings en na sy oorwinning (4:22) in die wedloop vir manskoshuise was dit bykans ‘n gegewe dat hy ook in die ope wedloop vir mans gaan koning kraai.
Windy Jonas (Kovsies) het egter ‘n stokkie gesteek voor ‘n tweede oorwinning vir Meintjies en het speel-speel oor die laaste 100 m met Meintjies afgereken. Hulle onderskeidelike tye was 4;21 en 4:22. Khotatso Mokone was derde in 4:32.
In die wedloop vir laer- en hoërskoolseuns het Heinrich Bruhns (Grey) ‘n wegholoorwinning van 4:52 behaal terwyl sy spanmaat van Grey, Hennie Engelbrecht (5:01) sowat 80 m na Bruhns oor die eindstreep was.
Die wedloop vir laer- en hoërskoolmeisies het Zelda van der Merwe (Oranje, 6:00) ‘n wegholoorwinning oor Nadine Hickley (JF, 6:26) bewerkstellig. Kaylee Crous (Eunice, 6:29) was derde.







