Afrikaanse popsensasie Gerduan Kemp rock

0
196
Gerduan Kemp

Bloemfontein gebore en getoë Gerduan Kemp het die stad aan die praat oor sy nuwe musiekevideo, Vergewe My as Ek. Die 22-jarige sanger en musikant, wat oorspronklik Mediastudies and Joernalistiek studeer het, se video is op 3 Julie 2019 vrygestel.

Kemp het aan aan Bloemfontein Courant vertel hoewel sy musiek as Afrikaanse popmusiek klassifiseer, hy graag sou wou sê dat daar beslis ‘n element van rock in sy musiek gehoor kan word. “Ek probeer altyd dat my musiek soveel moontlik emosie dra en altyd ‘n boodskap of storie vertel. Ek fokus daarop om elke liriek en musikale keuse te laat bydra tot die boodskap of die storie wat oorgedra word.”

Musiek was nog altyd ‘n groot deel van Kemp se lewe en hy het van jongs af daarin belang gestel. Volgens Kemp het hy oorspronklik net kitaar gespeel, maar oor die jare klavier leer speel. Kemp het ook sedert sy graad 9-jaar sanglesse gehad by Cézanne Yzelle, eienaar van CY Vocal Studio. Hy het reeds op skool besluit dat hy in die filmbedryf wil werk en dus Mediastudies studeer. In sy agterkop het hy van die begin af geweet dat musiek die loopbaan is wat hy wil volg. “Ek het, terwyl ek geswot het, besluit dat ek musiek wil maak en nadat ek in 2018 my graad in Mediastudies en Joernalistiek voltooi het, het ek besluit om ‘n voltydse sanger te word,” vertel Kemp.

Die debuut-enkelsnit is geskryf deur Kemp en Peter Cleff. Volgens Kemp verwys die titel, Vergewe My as Ek, nie noodwendig na die vergifnis wat mens soek oor iets spesifieks nie, maar eerder dat mens aanvaarding soek vir wie jy is. “Die storielyn in die musiekvideo vertel die verhaal van twee jonggetroudes wat weens moeilike werksomstandighede en lang werksure by mekaar verby begin leef en die uitwerking daarvan op hul verhouding. Mienke van Rooyen, ‘n bekende model van Bloemfontein, en Jason Roux, ‘n model van Middelburg vertolk die rolle in die musiekvideo,” sê hy.

Kemp se musiekvideo is op YouTube te sien en die liedjie is ook beskikbaar op alle digitale platforms soos Spotify en Apple Music. Jy kan meer van Kemp se musiek luister op YouTube: en Facebook: Gerduan Kemp en Instagram: @gerduan_kemp.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za