Die Toyota Cheetahs wil van die suksesvolle Springbokke leer nadat die nasionale rugbyspan die naweek ‘n rekord opgestel het deur die Rugbywêreldbeker ‘n vierde keer te wen.
Hoewel die Cheetahs vanjaar geen spelers by die Wêreldbeker gehad het nie, was daar talle spelers en bestuurslede wat voorheen diep spore in Vrystaat Rugby getrap het.
Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, is ‘n trotse Vrystater en was vantevore ‘n fisioterapeut by die Cheetahs, terwyl die Direkteur van Rugby, Rassie Erasmus, vir die Vrystaat gespeel het, asook die span afgerig het. Die skrumghoeroe Daan Human is ‘n oud-Vrystaatafrigter en boer nog in die provinsie, terwyl die krag- en kondisioneringsafrigter, Bongani Tim Qumbu, voorheen by Shimlas Rugby betrokke was.
Oud-Cheetahspelers wat hulle deel gedoen het by die Rugbywêreldbeker sluit in Ox Nché, Trevor Nyakane, Duane Vermeulen, Jasper Wiese, Willie le Roux en Makazole Mapimpi. Boonop is Cobus Reinach in Bloemfontein gebore en het in die Rosestad grootgeword terwyl Bongi Mbonambi van Bethlehem afkomstig is, en Franco Mostert in Welkom gebore is. Die Springbok-spoedvraat, Cheslin Kolbe, is ook die neef van die 400m naelloop wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk.
Die Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê as ‘n span kan hulle baie leer by die Springbokke en dit sluit in die span se samehorigheid.
“Die Springbokke het ‘n groot vertoning gelewer tydens die uitklopwedstryde en het daarin geslaag om al drie met ‘n enkele punt te wen.
Wat ons as ‘n Cheetahspan by hulle kan leer, is eerstens die samehorigheid. Hulle is almal op dieselfde bladsy en werk vir mekaar. Daar is geen ego’s nie – dit gaan alles net oor die span en die land en nie oor die individu nie.
“Handré Pollard was uitstekend met sy skopwerk. Hy het al 13 skoppe deur die pale gejaag, en die enigste ander skopper wat nie misgeskop het nie, was Italië se losskakel, Tommaso Allan, wat suksesvol was met 16 uit 16 skoppe. Dit het ‘n groot rol gespeel om die naelskraapse seges te beklink.
“Dan was die werktempo van die spelers uitstaande. As ‘n mens kyk na ‘n speler soos Pieter-Steph du Toit in die eindstryd – en ook Franco Mostert – elke keer wat daar ‘n lynbreek was, het sewe spelers die aanvaller agternagesit. Daar was altyd twee of drie spelers in die dekverdediging.
“Hulle het baie hard vir mekaar gewerk. Daar was ‘n baie goeie spangees gewees. Hulle was goed afgerig met ‘n duidelike plan. Ek is baie bly vir die Springbokke.”
Intussen het die Cheetahs tot ‘n mate ook hulle kant gebring deur vroeër vanjaar die Curriebeker te wen. Dit is die derde keer wat die Cheetahs die Curriebeker wen en dan wen die Springbokke die Rugbywêreldbeker daardie selfde jaar. Dit het voorheen in 2007 asook in 2019 so uitgewerk.
Fourie sê tong-in-die-kies dat SA Rugby in 2027 vir die span ‘n goeie loting moet gee vir die Curriebeker sodat hulle weer hul kant kan bring.
“Ek is bly dat hierdie goeie teken weer so uitgewerk het, dat wanneer ons die Curriebeker wen, dan wen die Springbokke die Rugbywêreldbeker. SARU moet in 2027 ‘n goeie loting gee sodat ons weer die toon kan aangee. Ek is seker die meeste van dié Springbokke sal oor vier jaar weer beskikbaar wees en hulle gaan net beter word.
“Ons wil hulle net gelukwens vir een helse groot poging in die Wêreldbeker en ons is almal trots op wat hulle bereik het.”
Intussen is die Cheetahs besig om te slyp vir die Europese Uitdaagbeker wat in Desember afskop. – MORGAN PIEK







