Woonbuurtvereniging begin skoonmaakaksie

0
329
Na

Vier lede van die Universitaswoonbuurtvereniging (UWV) in Bloemfontein het onlangs hul deel vir die gemeenskap gedoen toe hulle die leë erf agter die Siloam Kerk in Versterstraat, wat oortrek was met gras, getakel het tydens ’n skoonmaakaksie.

Volgens die adjunkvoorsitter van die vereniging, Almarie Entius, het die UWV, wat verlede jaar in Universitas tot stand gekom het, meer as 150 lede. “Ons maak op Saterdae vir twee uur lank skoon en onlangs het ons op De Bruynstraat en Paul Krugerlaan gekonsentreer.

Die eiland voor Eric Spar het nog aandag nodig, maar ons kom nog daar.” Die UWV het verskillende take wat hulle deur die jaar wil aanpak en het reeds begin deur asfalt (teer) te koop om van die slaggate in Wynand Moutonrylaan en ander strate toe te maak.

“Die slaggate in die glybaan by die westelike hek van die universiteit en die in Ryno Kriel is volgende op die agenda, ” het Entius verduidelik. Hulle het ook verf bekom en is van plan om verskeie speelparkies in Universitas se speelapparaat te verf in die komende weke.

Die UWV het ook met ’n inisiatief begin vir alle inwoners van Universitas om die vereniging te ondersteun deur ’n boom op hul sypaadjies of oorkant die straat “aan te neem” en water te gee. Eerskomende Saterdag beplan lede van die UWV om Kiewietpark in Twellsingel skoon te maak.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za