Wen Jana du Plessis se nuwe boek!
‘n Bloemfonteinse kankerlyer, een van Kansa se Hero of Hope-vroue en ‘n kranige atleet ondanks haar stryd teen kanker, was die naweek ‘n bron van inspirasie op ‘n kankerdag wat deur die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Bainsvlei se Sektor 2 buite die stad aangebied is. Jana du Plessis, ‘n motiveringspreker, wat haar been moes laat amputeer en later ‘n ongebore baba verloor het, het beklemtoon dat ‘n mens se tyd op aarde geleen is. Gelowiges moet vasstaan in hul geloof, want God se tyd is volmaak. Die kankerdag was die breinkind van ‘n lid van dié GPF en ‘n fotograaf, Eloise le Grange, wat foto’s van kankerlyers en hul gesinne geneem het. Dit was ter ere van haar ma, Elma Nel, wat 12 jaar gelede haar stryd teen kanker verloor het. Een gelukkige leser kan ‘n kopie van Aardetyd is Genadetyd wen, wat deur Du Plessis en Maretha Maartens geskryf is. ‘n CD, Put van lyding, berg van oorwinning deur Jana du Plessis en Lynette Beer kan ook gewen word. Gaan na www.bloemfonteincourant.co.za en kliek op ‘WIN’. Hier is Francis Gous, Sektor 2-voorsitter van Bainsvlei se GPF, en Jana du Plessis, ‘n motiveringspreker van Bloemfontein, wat Saterdag ballonne met geskrewe boodskappe van hoop die lug ingestuur het. FOTO: CHRISTAL-LIZE MULLER







