RUFUS BOTHA
Mens kan slegs bespiegel wie die senuweeagtigste was toe Bloemfontein en die Kovsies se weerligstraal, Wayde van Niekerk, verlede Woensdag kort voor die skoot geklap het vir die 400m-eindronde by die wêreldkampioenskap in Beijing weggespring het. Was dit Van Niekerk self of die derduidende Suid-Afrikaanse ondersteuners wat vasgenael was voor die televisie en op die Beijing-paviljoen om een van die grootste sportgebeure in die land se sportgeskiedenis te aanskou?
Die antwoord is heelwaarskynlik laasgenoemde, want Van Niekerk het kort voor die afsitter bevel oorgeneem het 'n vasberade, komkommerkoel uitdrukking op sy gesig gehad. Dit ten spyte daarvan dat hy binne sekondes sou betrokke raak in een van die grootste 400m-wedlope van alle tye.
Van Niekerk, wat in baan 6 gesak het, sou heelwaarskynlik volgens wêreldsportweddenskapguru's 'n vierdeplek (dalk 'n derdeplek?) behaal het. Aan sy binnekant (baan 5) was Kirani James (Grenada) wat in 2011 die wêreldkampioen was en die huidige Olimpiese Spele-kampioen (2012). Hy het ook verlede jaar die Statebondtitel gebuit terwyl Van Niekerk tweede was.
Aan Van Niekerk se buitekant (baan 8) was die Amerikaner LaShawn Merrit, nóg 'n groot gunsteling om goud in Beijing te verower. Hy het weggespring as verdedigende wêreldkampioen. Dan was daar nog die joviale Isaac Makwala, die Afrika-rekordhouer.
Maar die skugter Van Niekerk het hom weer eens nie aan name gesteur nie. Toe die skoot klap, het hy teen die verwagting in soos 'n pyl uit 'n boog uit sy blokke gevlieg en die manne heeltemal onkant betrap, want sy eerste 200m is gewoonlik bestendiger as dié van sy teenstanders. Slegs Merrit en Makwala het gepoog om Van Niekerk se blitsige eerste 200m (onder 21 sekondes) na te doen, maar tevergeefs.
Die 23-jarige Van Niekerk het die pylvak eerste bereik en hoewel verskeie opnames van dié wedloop se kommentators dit wou hê dat hy ingehaal sou word, het hulle nie rekening gehou met hierdie oud-Grey se grootse veggees nie. Hy is uiteindelik eerste oor die wenstreep in 'n blitsige 43,48 en dit was 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord.
Hy het sodoende ook sy eie Afrikarekord wat hy onlangs aan Makwala afgestaan het weer agter sy naam geskryf.
Die 29-jarige Merrit (43,65) het moedig geveg en tweede geëindig in die beste tyd van sy roemryke loopbaan.
James, wat self oor die bekende sportterm BMT (Big Match Temperament) beskik, was derde (43,78) en het sy beste ooit (43,74) rakelings misgeloop. Dit was egter sy vinnigste tyd vir 2015.
Makwala (5de, 44,63) was agter Luguelín Santos (Dominikaanse Republiek) wat vierde was met 'n puik nasionale rekord van 44,11.
Van Niekerk, wat erg uitgeput was na die wedloop, het eers op die baan gaan lê terwyl sy teenstanders hom een vir een kom gelukwens het. Daarna het hy na die paviljoen geloop na 'n klompie Suid-Afrikaners, onder andere sy afrigter Ans Botha, en 'n selfie saam met hulle geneem.
Na 'n draai in die hospitaal was hy gou weer piekfyn.
Van Niekerk, wat hom nou gevestig het as die vierde beste 400m-atleet van alle tye, stamp vanaand (Donderdag) in Zurich (Switserland) heelwaarskynlik kop teen dieselfde vier manne in die einste 400m. Die lotingslys was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
En dan, op 11 September in Brussels (België) kom dié yster van die Rosestad teen die beste naeloper van alle tye, Usain Bolt (Jamaika), in laasgenoemde se voorkeurnommer, die 200m, te staan. In dieselfde wedloop is Anaso Jobodwana, wat in Beijing vir Suid-Afrika die bronsmedalje in die 200m (19,78) gewen het. Hy het met laasgenoemde tyd Van Niekerk se onlangse nasionale rekord (19,94) uit die boeke gevee. Dus, maak gereed vir 'n wedloop binne in 'n wedloop tussen dié Suid-Afrikaanse blitse.







