Wagtyd is breityd!

0
452
Ontvangsdame by Deon Ceronio-gehoorsentrum, Linda Voigt, en oudioloog, Deon Ceronio, met die kombersies en wol wat deur pasiënte en besoekers gebrei en gehekel is. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Oudioloog Deon Ceronio en sy span hou hul pasiënte op ‘n vindingryke manier besig wanneer hulle sit en wag op ‘n afspraak. Ontvangsdame Linda Voigt het met die briljante idee vorendag gekom om pasiënte te laat hekel en brei vir ‘n goeie doel terwyl hulle wag.

Sy het in Septemeber verlede jaar met breipenne, hekelpenne en wol opgedaag en so het van die pasiënte begin brei en hekel aan kombersies wat aan liefdadigheid geskenk gaan word.

“Linda brei en hekel verskriklike mooi goed. Sy het besluit mense kan blokkies sit en brei of hekel en dan sal sy dit bymekaarsit om kombersies te maak. Daar word presies verduidelik op ‘n maklike patroon hoe groot elke blokkie moet wees,” sê Ceronio.

Hy sê mense hoef nie die hele blokkie klaar te maak nie. Die idee is dat hulle brei of hekel sover die tyd toelaat, en dan werk die volgende persoon verder aan dieselfde blokkie, of begin ‘n nuwe een. Hy sê hul assistent, Paulina Melani, het al baie mense geleer wat nie mooi geweet het hoe om te brei of te hekel nie. Sy het nie veel tyd deur die dag daarvoor nie, maar kom sit dikwels in haar etenstyd en brei.

Ceronio sê dit is ongelooflik hoe baie mense uitsien om tydens elke besoek ‘n blokkie te kan optel uit die werksmandjie en verder te brei of hekel totdat dit hul beurt vir ‘n afspraak is. Oud en jonk geniet dit om aan die projek deel te neem.

“Ons wil graag die kombersies vir mense gee wat dit regtig nodig het. Ons het nog nie iemand geïdentifiseer nie. Ons dink aan ouetehuise of hospitale,” sê Ceronio.

Op die oomblik is daar al twee kombersies voltooi en ‘n derde is amper klaar. Voigt het vertel dat hulle self by die gehoorsentrum die wol verskaf, maar daar is ook al dames wat wol geskenk het.

“Ons het die nou die dag ‘n mamma hier gehad wat haar dogtertjie begin leer het hoe om te brei. Dit was nogal ‘n storie, maar sy het uiteindelik daarin geslaag, al het die wol oral gelê,” het Voigt met ‘n groot glimlag vertel. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za