Vrystaatse skoolmeisie in klaskamer geskiet

0
1364

Die Departement van Onderwys in die Vrystaat het ‘n skietvoorval waarin ‘n gr.10-leerling in ‘n klaskamer gewond is ten sterkste veroordeel. Dit kom nadat ‘n meisie Dinsdagoggend by die Mmathabo Sekondêre Skool in Makwane in Qwaqwa gewond is deur ‘n oudleerling, met wie sy glo voorheen in ‘n romantiese verhouding was.

Woordvoerder van die onderwysdepartement, Howard Ndaba, sê die skieter het nie deur die skool se hoofhek toegang tot die skoolterrein verkry nie. Daar was sekuriteitswagte by dié hoofingang van dié skool.

Ndaba sê volgens inligting het die meisie se eks ongesiens oor ‘n heining gespring en na die meisie se klaskamer gegaan. Dit was pouse en daar was geen onderwyser in die klaskamer nie.

Hy het ‘n vuurwapen by hom gehad, wat na bewering behoort aan sy broer, wat ‘n soldaat is. Hy het die meise ten aanskoue van medeleerlinge in die gesig geskiet. Volgens Ndaba het sy het ‘n skietwond onder die oog opgedoen. Die skieter, wat verlede jaar ‘n gr.12-leerling aan dié skool was, het daarna sy eie lewe in die klaskamer geneem.   

Die gewonde meisie is na ‘n hospitaal gebring en sy is intussen ontslaan. Ndaba sê leerlinge en leerkragte ontvang trauma-berading. Ndaba sê die leerling wat gewond is se ouers is ook besoek en het berading ontvang.

Hy sê streng veiligheidsmaatreëls is in plek by die skool wat ook deel is van die onderwysdepartement en die polisie se Adopt A Cop-projek. Dié projek is juis gemik daarop om veiligheid by skole op te skerp.

Daarmee saam het dié departement in samewerking met die provinsiale Departement van Polisie Paaie en Vervoer asook die Departement van Sosiale Ontwikkeling nog ‘n veiligheidsprojek in plek.

Ouers is by altesaam 35 skole oor die Vrystaat heen aangewys om skoolterreine in klastyd en pouses te patrolleer. Dié ouers is ook daar om toe te sien dat leerlinge nie die skoolterrein in skooltyd verlaat nie. Hulle monitor ook dwelmisbruik onder leerlinge en beheer toegang tot die skool.