Vrystaatse polisiebeampte vas na hy ‘n winkel in sy uniform roof

0
452

‘n Polisiebeampte van Theunissen is vandag in die plaaslike landdroshof borgtog geweier nadat hy aangekeer is in verband met ‘n gewapende rooftog verlede maand.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die 28-jarige Diphaphang Mokoena, wat verbonde is aan die polisie se gemeenskapsdienssentrum op Theunissen, is Saterdag by sy huis in hegtenis geneem.

Hy staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord, gewapende roof en ontvoering nadat hy glo op 13 Augustus omstreeks 19:00 ‘n plaaslike winkel beroof en ‘n Ethiopiese winkeleienaar met sy amptelike vuurwapen aangehou, ontvoer en aangerand het.

Volgens Gaobepe was Mokoena in sy uniform geklee tydens die rooftog waarna hy die winkeleienaar agter in ‘n polisiebakkie gegooi het. Mokoena het die erg beseerde man vir die dood by Meloding in Virginia gelaat nadat hy hom met sy vuurwapen geslaan het. Hy sê ná verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat Mokoena met die rooftog verbind word.

Geld, sigarette en selfoonlugtyd alles ter waarde van R5 000 is gevat.

Mokoena is weer op 16 September in die hof.– Christal-Lize Muller