‘n Ma, haar dogter en hul beweerde tuinwerker wat glo uit wraak saamgesweer het om ‘n Bloemfonteinse drawwer te vermoor, is later vanjaar weer in die hof.
Charmaine le Roux, haar dogter Charndrei en Jerry Brummer het vandag in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en sameswering tot moord verskyn.
Dit kom nadat Karen Buschow, eienaar van ‘n plaaslike skool waar Charndrei voor die aanval gewerk het, in Julie oorval en vermoedelik met ‘n klip aangerand is, terwyl sy vroegoggend in Dan Pienaar gedraf het. Buschow is in die ysige koue vir die dood gelaat.
Die Le Rouxs het Brummer glo gehuur om Buschow aan te rand nadat Charndrei onder ‘n donker wolk by die skool bedank het.
Die drie beskuldigdes is verlede week elk op borgtog van R1 500 vrygelaat.
Hulle verhoor is na 10 November vir verdere ondersoek uitgestel. – Christal-Lize Muller







