Vrystaatse sportlui wat tot Sondag in Glasgow by die Statebondspele in aksie was, het hulle kant gebring en veral die Rosestad se vaandel duidelik te laat wapper.
Die enigste goue medalje wat egter hangplek in ‘n Bloemfonteinse glaskas gaan kry is dié van Cornal Hendricks. Hy was lid én ‘n staatmaker van die Springbokke se sewesspan wat ‘n skitterende toernooi beleef het.
Hendricks en sy makkers het in hulle opmars na die boonste trap van die podium eers vir Skotland in die kwarteindstryd met 38 – 12 verslaan en daarna vir Samoa in die halfeindstryd kafgedraf met 35 – 7.
Die tafel was gedek vir ‘n riller-eindstryd tussen die Bokke en hulle All Blacks-sewes-eweknie en dié keer was die manne in Groen-en-Goud baas met 17 – 12.
Die 21-jarige Kovsie, Wayde van Niekerk het sy skitterseisoen voorgesit en was die enigste Vrystater wat ‘n medalje op die atletiekbaan verower het. Hy het tweede in die 400 m geeindig en ‘n puik tyd van 44,68 losgenael.
Van Niekerk is slegs deur die verdedigende Statebondkampioen en ook huidige Olimpiese-spele kampioen, Kirani James (Grenada) getroef. James moes egter die Statebondspele-rekord verbeter om voor van Niekerk te eindig.
Die middelafstandster van die Kovsies, Johan Cronjé het weliswaar nie ‘n podiumplek (1500 m) losgehardloop nie, maar het steeds ‘n vuurwerkwedloop agter die blad. Hy was vierde (3;39.65) in die eindrondte en slegs 34 honderstes van ‘n sekonde agter die wenner, James Magut (Kenia, 3;39,31) nadat die voorste vier atlete gelyktydig op die wenstreep afgepeil het.
Die geluk was weer eens nie aan nóg ‘n Bloemfonteiner, Kate Roberts se kant nie. Sy het in die driekamp hard met die grond kennis gemaak en kon slegs 15de eindig. Maar, hierdie taai blondekop laat haar nie maklik onderkry nie.
Sy het daarna saam met haar Suid-Afrikaanse spanmaats, Richard Murray, Henri Schoeman en Gillian Sanders die silwermedalje gebuit in die gemengde driekamp-spankompetisie.
Die skolier van Fichardtpark, die 17-jarige Juanelie Meijer het ‘n puik vertoning in die verspring vir atlete met fisiese gestremdhede opgedis. Sy was in haar kategorie vierde teen heelwat ouer deelnemers en sy het in die proses haar eie nasionale rekord van 4,06 meter geëwenaar.
Die Bloemfonteinse netbalsterre (Maryka Holtzhausen, Adéle Niemand, Karla Mostert en Kifiloe Tsotetsi) wat Suid-Afrika verteenwoordig het, moes met ‘n beskeie sesdeplek tevrede wees nadat Malawi Suid-Afrika om die vyfdeplek getroef het (53 – 45).
Frederick Coetzee het goeie rekenskap van hom gegee toe hy in die Queen’s Prize individuele skiet-eindrondte vyfde geeindig het.
¦ Hoewel sy nie meer ’n inwoner van Bloemfontein is nie, het die oud-skolier van Eunice, Ashleigh Pasio Moolman het in die 98 km-padfietswedren oudergewoonte haar veggees onderstreep en die bronsmedalje vir die reënboognasie gewen.







